Hier is ’n resep vir ’n vinnige gebakte peerpoeding vir koue dae
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
4 tot 6 porsies
Bestanddele
400 g (1 rol) skilferkorsdeeg
3 vars pere
100 g (1/5 blok) botter
2 50 ml (1 k) sagte bruinsuiker (Demerara-suiker)
KARAMELSOUS
125 ml (½ k) karamelkondensmelk
60 ml (4 e) room
30 ml (2 e) botter, gesmelt
knypie sout
handvol pekanneute, grofgekap (opsioneel)
LEES OOK: Gebakte appeltert
Metode
Stel oond op 220 °C.
- Rol skilferkorsdeeg dunner op meelbestrooide oppervlak uit. Plaas koekpan van 24 cm op skilferkorsdeeg en sny sirkel wat 5 cm groter is. Las skilferkorsdeeg waar nodig sodat jy groot, ronde skilferkorsdeegsirkel het. Bedek en hou in yskas tot benodig.
- Skil en halveer pere en verwyder klokhuis.
- Smelt botter en bruinsuiker oor lae hitte op stoofplaat en roer gereeld sodat suiker oplos. Voeg pere by en prut oor matige hitte vir ongeveer ses minute.
- Skep pere met gaatjieslepel in ronde koekpan. Rangskik pere in sirkel met holtes na onder. Giet oorblywende sous in koekpan.
- Plaas ronde, uitgerolde skilferkorsdeeg bo-op peerhelftes. Druk kante wat oorhang tussen pere en kant in om rand te vorm.
- Bak tert vir 10 minute by 220 °C. Verlaag dan temperatuur tot 180 °C en bak vir nog 18 minute of tot goudbruin bo-op.
- Laat bietjie in koekpan afkoel en keer uit op opdienbord met kors onder.
- Karamelsous Meng kondensmelk, room, botter en sout en sit saam met peertert voor. Sprinkel neute oor indien verkies.