Sjokoladewortelkoek.
1 groot koek
Bestanddele
KOEK
3 ekstra groot eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
187 ml (¾ k) olie
30 ml (2 e) gouestroop
375 ml (1½ k) koekmeel
60 ml (4 e) kakao
2 ml koeksoda
7,5 ml (1½ t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn kaneel
knypie sout
500 ml (2 k) wortels, fyn gerasper
50 g (½ pakkie) pekanneute, fyn gekap
10 ml (2 t) Frangelico of likeur van jou keuse
VERSIERSEL
200 g (1 groot plak) donkersjokolade
30 ml (2 e) botter
30 ml (2 e) versiersuiker, gesif
20 ml (4 t) Frangelico of likeur van jou keuse
125 g (½ bakkie) laevetmaaskaas, teen kamertemperatuur
50 g (½ pakkie) pekanneute, grof gekap
Metode
Stel oond op 180 °C.
1 Koek: Klits eiers en strooisuiker tot liggeel.
2 Klits olie en gouestroop by.
3 Sif koekmeel, kakao, koeksoda, bakpoeier, kaneel en sout.
4 Voeg meelmengsel by eiermengsel en meng goed.
5 Roer wortels, neute en likeur by.
6 Skep beslag in gevoerde ronde koekpan met 22 cm-deursnee.
7 Bak vir 35 tot 40 min. of tot toetspen skoon uitkom.
8 Laat bietjie in koekpan staan. Keer op afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.
9 Trek bakpapier af en plaas op geskikte opdienbord.
10 Versiersel: Smelt sjokolade en botter in mikrogolf teen 70% krag tot glad.
11 Meng versiersuiker, likeur en maaskaas. Roer sjokolademengsel by tot goed gemeng.
12 Smeer versiersel oor koek en sprinkel pekanneute bo-oor. Vk.