Bak dié heerlike kolwyntjies.
24 kolwyntjies
Bestanddele
KOLWYNTJIES
500 ml (2 k) koekmeel
375 ml (1½ k) strooisuiker
knypie sout
125 g (¼ blok) botter
125 ml (½ k) olie
125 ml (½ k) kakao
250 ml (1 k) water
3 eiers
125 ml (½ k) natuurlike jogurt
GANACHE
300 g donkersjokolade
75 ml (5 e) dubbeldikroom
SJOKOLADEROSIES
500 g donker-modelleringsjokolade
90 ml (6 e) vloeibare glukose
APPELTJIES
420 g (1 blik) ingelegde appeltjies, gedreineer
100 g (1 plak) donkersjokolade, gesmelt
Metode
Stel oond op 180 °C.
1. Kolwyntjies: Meng koekmeel, suiker, koeksoda en sout in groot mengbak.
2. Verhit botter, olie, kakao en water in kastrol tot botter gesmelt is. Laat effens afkoel.
3. Klits eiers en roer jogurt by tot goed gemeng.
4. Meng eiermengsel by kakaomengsel en roer dan by meelmengsel tot goed gemeng.
5. Plaas bruin kolwyntjiepapiertjies in standaardgrootte kolwyntjiepannetjies. Skep papiertjies ¾ vol beslag.
6. Bak vir 15 min. of tot toetspen skoon uitkom.
7. Laat bietjie in pannetjies afkoel. Skep op afkoelrakkie uit en laat heeltemal afkoel.
8. Ganache: Smelt sjokolade en room saam. Verwyder van hitte en roer tot glad. Laat staan vir ongeveer 1 uur eenkant tot effens verdik.
9. Smeer ganache bo-oor elke kolwyntjie.
10. Sjokoladerosies: Smelt sjokolade in dubbelkoker en roer tot glad.
11. Roer glukose by. Sjokolade sal omtrent onmiddellik styf raak. Roer tot goed gemeng.
12. Plaas sjokolademengsel in plastieksakkie en verkoel in yskas tot ferm. Knie sjokolade effens tot glad.
13. Vorm rosies met hande en plaas op helfte van kolwyntjies.
14. Appeltjies: Doop appeltjies in gesmelte sjokolade en plaas bo-op ander helfte van kolwyntjies.
Wenk:
Sjokoladerosies kan vooraf gemaak word en op koel plek geberg word tot benodig.
Die resep kan met gemak verdubbel word tot jy die verlangde getal kolwyntjies het.