Die komplimente gaan inrol as jy hierdie kaaskoek voorsit
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
Foto ELMARIE KNAPTON
16 porsies
KOEKIEKORS
2 00 g (1 pakkie) koekies (Bakers Digestive Wholewheat Biscuits)
knypie fyn kaneel
80 g botter, gesmelt
VULSEL
750 g (3 x 250 g-houers) roomkaas
3 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap
KARAMELLAAG
80 g gesoute botter
250 ml (1 k) ligte bruinsuiker
45 ml (3 e) volroommelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
Metode
Stel oond op 160 °C.
- Kors Kap koekies en kaneel in voedselverwerker fyn. Voeg gesmelte botter by en meng goed.
- Druk op bodem van losboomkoekpan met 22 cm-deursnee vas.
- Vulsel Klits roomkaas en eiers met elektriese klitser tot gemeng.
- Roer strooisuiker en vanieljegeursel by tot goed gemeng.
- Roer pekanneute by.
- Skep vulsel in tertkors. Plaas in oondpan of op bakplaat. Plaas klein oondbak met water in oondpan of op bakplaat. Die vog sal help dat die kaaskoek nie kraak of droog is ná baktyd nie.
- Bak vir 55 minute. Skakel oond af en maak oonddeur heeltemal oop. Hou kaaskoek in oond vir nog 30 minute.
- Haal kaaskoek uit oond. Laat heeltemal afkoel.
- Jy kan dit reeds die vorige dag maak en in yskas bêre.
- Karamellaag Verhit botter, bruinsuiker en melk saam in kastrol oor matige hitte terwyl jy gereeld roer sodat suiker kan oplos, ongeveer agt minute.
- Verwyder van hitte en roer vanieljegeursel by tot gemeng.
- Roer versiersuiker bietjies-bietjies by terwyl jy roer. Sous moet dik mengsel wees. Indien sous te dik is, kan jy klein bietjie kookwater byvoeg word om dit dunner te maak.
- Skep bo-oor kaaskoek en sny in skyfies.