Illse Roos is ‘n bekende aktrise en veral bekend vir haar rol in 7de Laan. Sy deel haar resep vir ‘n heerlike “heilige vrugte”-nagereg met ons.
By die huis is sy ma van twee seuns, Luke en Matthew, waar sy lekker kos dmaak. Sy hou van kos met interessante smake. “Ongelukkig kom ek nie altyd by nuwe resepte uit nie. Vars kruie uit ’n mens se eie tuin is genoeg inspirasie om te begin kook. Saam met ’n lekker glas wyn in die hand kan die kookproses net vlot verloop!” Twee sjefs wat haar inspireer is Jamie Oliver en Nigella Lawson. “Jamie is speels, kinderlik en entoesiasties oor sy kos. Boonop is dit maklik om sy kos te maak en dis heerlik. Nigella maak weer die sluimerende Kitchen Goddess in ons almal wakker en proe was nog nooit so mooi nie!”
6 porsies
4 geelperskes, geskil en gehalveer
6 pruime, gehalveer
4 pere, geskil en gehalveer
750 ml (3 k) water
250 ml (1 k) chenin blanc
125 ml (½ k) suiker
3 kaneelstokkies
4 steranys
- Plaas bestanddele saam in kastrol en verhit tot kookpunt.
- Draai stoofplaat laer en laat vir 10 minute oor lae hitte prut. Vrugte moet nog ferm wees.
- Laat vrugte afkoel en sit saam met vanieljejogurt of -roomys, gekapte neute en heuning voor.