Akteur Hykie Berg is mal oor sjokolade en deel sy resep vir ‘n donkersjokoladeverleiding met ons.
Hy erken dat hy aan sjokolade verslaaf is! “My gunstelingsjokolade is Lindt With a Touch of Sea Salt.” Hykie is nie so vaardig in die kombuis nie, maar hy hou wel daarvan om vir kuiergaste te kook. Hy eet graag steak, vars pynappelskywe, gemengde neute en salm saam met avokado op rogbrood.
“Wanneer ek gesond wil eet, hou ek daarvan om kos gaar te stoom.” As daar nou een ding is wat hom aan sy kinderjare herinner, is dit sy ma se suurlemoentert. “Sien, al weeriets soets!”
Donkersjokoladeverleiding
1 koek
KORS
200 g (1 pakkie) Tennisbeskuitjies
60 ml (4 e) botter, gesmelt
VULSEL
200 g (1 groot plak) donkersjokolade, gerasper
200 g botter
4 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) ligte bruinsuiker
AFRONDING (opsioneel)
250 ml (1 k) room
2,5 ml (½ t) vanielje
5 ml (1 t) versiersuiker
100 g (1 plak) donkersjokolade, gesmelt
Stel oond op 180 °C.
- Kors Kap beskuitjies in voedselverwerker fyn. Voeg gesmelte botter by en meng.
- Druk koekiekrummels op bodem van ’n losboomkoekpan van 24 cm wat met kossproei gespuit is en plaas in yskas tot benodig.
- Vulsel Plaas sjokolade en botter in glasmengbak.
- Mikrogolf teen 50% krag tot net gesmelt. Roer goed. Laat afkoel.
- Klits eiers en suiker saam in groot mengbak met elektriese klitser tot liggeel, ongeveer 10 minute.
- Giet gesmelte sjokolade by eiermengsel en meng goed.
- Giet mengsel in voorbereide losboomkoekpan.
- Plaas losboomkoekpan in oondpan om te keer dat oond vuil mors as botter uitdrup.
- Bak vir 50 tot 60 minute.
- Laat afkoel en haal koek uit.
- Afronding Klits room, vanielje en versiersuiker styf en sit saam met gesmelte sjokolade saam met koek voor of versier met frambose en klapperskaafsels soos op foto.