Hierdie resep kom van Marinda Steyn van Durban. Sy sê haar familie geniet dit baie.
Bestanddele
KOEK
500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) strooisuiker
knypie sout
10 ml (2 t) bakpoeier
4 eiers, geskei
125 ml (½ k) olie
125 ml (½ k) warm water
220 g (2 x 110 g-blikkies) grenadellamoes
2,5 ml (½ t) grenadellageursel
5 ml (1 t) bakpoeier
VERSIERSEL
500 g (1 klein pakkie) versiersuiker, gesif
125 g (¼ blok) sagte botter
ongeveer 60 ml (4 e) warm water
55 g (½ blikkie) grenadellamoes
5 ml (1 t) grenadellageursel
BOLAAG
55 g (½ blikkie) grenadellamoes
5 ml (1 t) strooisuiker
2,5 ml (½ t) mielieblom
5 ml (1 t) water
Metode
Stel oond op 180 °C
1 Koek Sif koekmeel, strooisuiker, sout en bakpoeier in groot mengbak.
2 Klits eiergele tot liggeel. Voeg olie, water, grenadellamoes en -geursel by eiergele en klits deur.
3 Voeg eiergeelmengsel by meelmengsel en roer tot goed gemeng.
4 Klits eierwitte tot amper styf en sif bakpoeier bo-oor. Klits verder tot styf.
5 Vou eierwitte by beslag in.
6 Voer twee koekpanne met 22 cm-deursnee met bakpapier en verdeel beslag so gelyk moontlik tussen koekpanne.
7 Bak koek vir 5 min. by 180 °C. Draai hitte af en bak vir 30 min. by 160 °C of tot toetspen skoon uitkom.
8 Versiersel Klits versiersuiker, botter, water, grenadellamoes en -geursel tot lig en romerig.
9 Smeer versiersel tussen koeklae en ook bo-op.
10 Bolaag Verhit grenadellamoes en strooisuiker in mikrogolf vir 1 min. Maak mielieblom en water tot pasta aan en roer by warm grenadellamengsel. Plaas weer terug in mikrogolf om te kook tot verdik.
11 Laat eers bietjie afkoel en skep dan bo-op koek.
WENK: Grenadellageursel is by bakwinkels soos Baking Bonanza in Lyttelton
(012 660 3688) beskikbaar
Vk