Blou kolwyntjies is in die mode. Probeer dié heerlike resep
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
24 kolwyntjies
Bestanddele
625 ml (2½ k) koekmeel
10 ml (2 t) kakao
5 ml (1 t) koeksoda
2,5 ml (½ t) sout
375 ml (1½ k) strooisuiker
2 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) karringmelk
312 ml (1¼ k) olie
5 ml (1 t) appelasyn
3 druppels donkerblou jelkoekkleursel
1 klein druppel viooltjiepers jelkoekkleursel
5 ml (1 t) vanieljegeursel
WIT VERSIERSEL
2 50 g (½ blok) wit margarien, kamertemperatuur
1 kg (1 pak) versiersuiker, gesif
1 ml bakpoeier
90 ml (6 e) volroommelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
125 g (½ bakkie) roomkaas, kamertemperatuur
LEES OOK: Malvapoeding-kolwyntjies
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Sif koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam. Roer strooisuiker by.
- Klits eiers. Voeg karringmelk by en klits vinnig tot gemeng. Roer olie en appelasyn by.
- Roer meelmengsel by eiermengsel tot beslag.
- Meng jelkleursels en vanieljegeursel. Voeg klein bietjie van beslag by jelkleursels en meng goed.
- Voeg terug by beslag en roer tot gemeng.
- Voer twee muffinpanne met wit muffinpapiertjies.
- Skep muffinpapiertjies ¾ vol met beslag.
- Bak vir 16 tot 18 minute of tot gaar in middel.
- Laat kolwyntjies heeltemal op afkoelrak afkoel.
- Wit versiersel Room margarien tot wit, ongeveer vyf minute.
- Meng versiersuiker en bakpoeier saam. Skep ongeveer 1 k (250 ml) van versiersuikermengsel by margarienmengsel.
- Voeg melk en vanielje by margarienmengsel. Klits met elektriese klitser tot pofferig.
- Voeg versiersuikermengsel verder bietjies op ’n slag by en hou aan klits tot goed gemeng en versiersel donserig is, ongeveer vyf minute.
- Meng roomkaas tot glad en roer by wit versiersel.
- Spuit versiersel op kolwyntjies en rond af soos verkies.