Valerie Slabbert, wat een van die Koekedoor-deelnemers was, ken van bak en brou. Hier is haar resep vir ‘n 3-in1-Kersgebak – spesiaal vir Vrouekeur en Anchor-kitsgis.
Dis iets tussen ‘n kaneel-, chelsea- en tradisionele Paasbolletjie. Sy vind mense is nogal skrikkerig om met gis te bak. “Mareli Visser (Koekedoor-wenner) sê altyd as jy ‘n skêr kan vashou en ‘n sakkie gis kan oopknip, dan kan jy met gis bak. Bederf jou geliefdes hierdie Kersfees met ‘n spesiale krans – behalwe vir die tyd wat dit neem om te rys, is dit eintlik baie vinnig en maklik en as jy eers jou eie bolletjies gebak het, sal jy bitter moeilik weer dié uit die winkel eet. Geseënde Kersfees!”
DEEGKRANS
300 ml melk
50 g botter
500 g broodmeel
10 g Anchor-kitsgis
75 g strooisuiker
5 ml (1 t) sout
1 geklitste eier
15 ml (1 e) sonneblomolie
100 g bosbessies
50 g gemengde sitrusskil (of die fyngerasperde skil van 1 lemoen)
5 ml (1 t) kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
2,5 ml (½ t) neutmuskaat
VRUGTEBOTTER
100 g botter (kamertemperatuur)
100 g strooisuiker
150 g bosbossies
5 ml (1 t) kaneel
5 ml (1 t) gemengde speserye
BOLAAG
60 ml (2 e) appelkooskonfyt
GLANSVERSIERSEL
100 g versiersuiker
water
Metode
- Deegkrans Verhit die melk en botter saam totdat die botter gesmelt het. Laat afkoel tot louwarm.
- Gooi die broodmeel, gis, strooisuiker en sout saam in ‘n mengbak. Gooi die sout aan die een kant van die bak en die Anchor-kitsgis aan die ander kant – nooit in direkte kontak met mekaar nie.
- Voeg die melkmengsel en geklitste eier by en roer met ‘n lepel tot gemeng.
- Knie die deeg goed op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is tot elasties en glad (ongeveer 10 minute – dit is baie terapeuties en bevredigend om te sien hoe die taai deegmengsel bymekaarkom en ‘n gladde, elastiese deeg vorm).
- Plaas in ‘n bak wat liggies met sonneblomolie gesmeer is en bedek met kleefplastiek wat liggies met sonneblomolie gesmeer is en laat dit vir sowat ‘n uur tot dubbel in grootte rys.
- Knie die deeg af, knie die bosbessies, sitrusskil, kaneel, gemengde speserye en neutmuskaat by tot goed gemeng en laat vir nog ‘n uur verder rys.
- Knie die deeg af en rol in ‘n groot reghoek uit (30 cm x 40 cm – soos ‘n rolkoek).
- Vrugtebotter Meng die vrugtebotterbestanddele.
- Smeer die vrugtebotter oor die deeg en rol op soos ‘n rolkoek.
- Plaas op ‘n bakplaat wat met bakpapier gevoer is en vorm in ‘n ring. Druk die punte bymekaar en sny skywe so ¾ deur die ring in die rondte om ‘n “waaier” te vorm.
- Bedek vir oulaas met kleefplastiek en laat vir ‘n uur rys.
- Bak in ‘n voorverhitte oond teen 200 °C vir ongeveer 25 minute of tot gaar.
- Bolaag Smelt die appelkooskonfyt in die mikrogolf en verf oor die krans sodra effens afgekoel.
- Glansversiersel Meng die versiersuiker met ‘n bietjie water tot glad en loperig en gooi met ‘n lepel oor bolletjiekrans sodra afgekoel. Sprinkel ongeveer 30 g pistasieneute bo-oor.