Sê ‘grenadella’ en ’n mens dink aan sonnige somerdae. Probeer ’n bietjie dié lekker tert met ’n tropiese smaak
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
Foto ANDREA CALDWELL
Gebakte grenadellatert
12 porsies
Bestanddele
KORS
437 ml (1¾ k) koekmeel
187 ml (¾ k) versiersuiker
90 ml (6 e) fyn amandels
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
knypie sout
125 g (¼ blok) botter
2 ekstragroot eiers
45 ml (3 e) koue water
VULSEL
250 ml (1 k) room
45 ml (3 e) mielieblom
125 ml (½ k) strooisuiker
115 g (1 blikkie) of 125 ml grenadellamoes
6 ekstragroot eiers
GRENADELLALAAG
115 g (1 blikkie) of 125 ml grenadellapulp
30 ml (2 e) water
5 ml (1 t) mielieblom
Metode
Stel oond op 180 °C.
1 Kors Meng koekmeel, versiersuiker, amandels, kaneel en sout in mengbak.
2 Vryf botter by meelmengsel in totdat dit soos broodkrummels lyk.
3 Klits eiers en water saam.
4 Meng vloeistof by meelmengsel tot deeg.
5 Hou deeg in plastieksakkie vir een uur in yskas.
6 Rol deeg op meelbestrooide oppervlak tot ongeveer 3 mm dik uit.
7 Voer langwerpige losboomkoekpan of ronde losboomkoekpan met 22 cm-deursnee met deeg.
8 Prik bodem van koekpan met vurk. Bak tertkors blind vir 15 minute.
9 Verwyder bakpapier en boontjies. Bak nog sewe minute of tot tertkors goudbruin is.
10 Vulsel Plaas room in dubbelkoker of in glasbak oor kastrol met warm water wat verhit word.
11 Meng mielieblom en strooisuiker. Roer grenadellamoes by tot gladde mengsel.
12 Klits eiers en roer by grenadellamengsel.
13 Voeg grenadellamengsel by warm room. Laat mengsel oor lae hitte kook tot dit begin verdik. Pasop dat mengsel nie skif as gevolg van te hoë hitte nie.
14 Skep vulsel in tertkors.
15 Grenadellalaag Meng grenadellapulp, water en mielieblom tot goed gemeng en sonder klonte in mengbak.
16 Mikrogolf vir twee minute op hoog. Roer gereeld. Laat bietjie afkoel.
17 Skep bo-oor tert. Laat effens stol en sit in skyfies voor.
18 Versier soos verkies.