Jacinda Louw-Schutte het al meer as 100 titels as skoonheidskoningin gewen. In 2006 het sy tweede in Survivor South Africa geëindig en het sedertdien al in verskeie TV-programme soos kykNET se Bruilof verskyn.
Jacinda sê sy hou van kosmaak, maar dis baie belangrik dat die voorbereidingswerk nie langer as ’n uur vat nie. “As ek in die middag tuis kom, wil ek iets maak wat maklik, gesond en gebalanseerd is. Ek het twee dogtertjies, Scarlett en Sienna, en dis vir my baie lekkerder om tyd saam met hulle deur te bring as om lank voor die kospotte te staan. “My dogters is lief vir frikkadelle met ’n sousie. Ek gee vir hulle elke aand twee groentes en hulle volg ’n sterkaart. As hulle hul groente eet, dan kry hulle ’n sterretjie wat tot ’n geskenk lei.”
Sy hou van regte boerekos, maar haar suurlemoenmeringuetert, wat sy al van kleins af maak, beïndruk algar. As Jacinda ’n “laaste maal op aarde” kan kies, sal dit ’n “Sondagmiddagskaaptjoppie met heerlike soet patats, botterskorsie en kapokaartappels wees”. Jacinda sê Italië is vir haar ’n ware kosmekka. “Ons was daar op wittebrood en twee keer daarna. Die heerlike pastas van alle kleure en vorms wat met ’n lekker glasie Lambrusco bedien word, het definitief plek in my lewe!”
Frikkadelle met rys, botterskorsie en groenboontjies
BOTTERSKORSIE
1 botterskorsie
bietjie olie
45 ml (3 e) ligte bruinsuiker
FYN BOONTJIES
400 g groenboontjies, gewas en gekap
3 aartappels, geskil en gehalveer
½ ui
klont botter
sout en peper na smaak
FRIKKADELLE
500 g maer beesmaalvleis
2 snye witbrood sonder korsies,
fyngedruk
½ ui, fyngekerf
60 ml (4 e) melk
15 ml (1 e) olie
15 ml (1 e) tamatiesous
15 ml (1 e) worcestersous
2,5 ml (½ t) sout
knypie swartpeper
187 ml (¾ k) kookwater
15 ml (1 e) Bisto
Stel oond op 180 ºC.
- Botterskorsie Skil botterskorsie en sit dit heel op onderste vlak in elektriese stomer.
- Fyn boontjies Sit boontjies, aartappels en ui in boonste vlak en stoom botterskorsie en boontjiebestanddele saam vir 10 minute.
- Wanneer botterskorsie klaar gestoom is, sny dit in skywe. Haal pitte uit en sit dit in oondbak wat met kossproei gespuit is. Sprinkel ’n bietjie olie oor.
- Stoom boontjies vir ’n verdere 10 minute in stomer.
- Bak solank botterskorsie in oond vir 15 minute. Sprinkel bruinsuiker oor wanneer botterskorsie sag is en plaas onder roosterelement tot dit net begin verbruin.
- Maak intussen boontjies met botter, sout en peper fyn.
- Frikkadelle Begin met frikkadelle terwyl groente stoom.
- Meng al die bestanddele saam behalwe water en Bisto.
- Meng maalvleis goed en rol in gholfbalgrootte. Sit frikkadelle in pan op stoof.
- Gooi 375 ml (1½ k) kookwater aan kant van pan en sit stoof op 5 aan.
- Sodra frikkadelle begin kook, draai stoofplaat se hitte af na 3 en prut met deksel op vir 10 minute.
- Draai frikkadelle om en prut met deksel op vir nog 10 minute. As water te min raak, kan jy nog 125 ml (½ k) water in pan gooi.
- Meng 187 ml (¾ k) water en Bisto tot glad. Voeg dit by frikkadelle in pan. Draai stoofplaat se hitte op na 4 as frikkadelle nie prut nie. Die Bisto sal sous lekker dik maak.
- Laat frikkadelle vir nog 5 minute sonder deksel prut. Alles is nou onder 30 minute klaar.