Sjef Lucas Carstens van die restaurant Cuvée, wat op die Simonsig wynlandgoed is, deel sy resep vir Franse uiesop met Vrouekeurlesers. Dié sop sal beslis die winterkoue verdryf.
Franse uiesop
Bedien 6
Bestanddele
200 g botter
10 medium tot groot uie, gesny
60 ml port
60 ml balsemiekasyn
2½ liter biefaftreksel
120 g spek, in blokkies
1 bouquet garni*
sout en peper
12 croutons
300 g gerasperde Klein Rivier gruyère
Metode
1 Smelt die botter in ‘n groot kastrol oor medium hitte totdat dit begin verbruin.
2 Voeg die uie by en roer elke nou en dan tot die uie sag en bruin is. Maak seker dat die uie, ‘n mooi donker, maar eweredige bruin is.
3 Verhoog die hitte tot mediumhoog en roer die port en asyn by, terwyl jy die bruin aanpaksel in die onderkant van die kastrol inroer.
4 Voeg die aftreksel by.
5 Voeg die spek en bouquet garni by en bring tot kookpunt.
6 Verlaag die hitte, geur met sout en peper en prut vir 45 minute tot 1 uur. Skep enige skuim af met ‘n lepel.
7 Verwyder die bouquet garni.
8 Wanneer die sop klaar gekook is, kan jy dit in individuele bakkies skep.
9 Laat twee croutons langs mekaar bo-op elke sopbakkie dryf.
10 Gooi ‘n vrygewige, eweredige hopie kaas op elke sop.
11 Plaas die sop onder ‘n baie warm rooster in die oond totdat die kaas smelt en verbruin.
12 Bedien onmiddellik.
* ‘n Bouquet garni is ‘n bondeltjie kruie wat met tou vasgebind word en hoofsaaklik gebruik word in die maak van sop, aftreksel en stowegeregte.