Die sangeres MoniQue Steyn deel haar resep vir ’n lekker filet in foelie met ons
MoniQue sê as ’n perfeksionis is dit vir haar lekkerder om skoon te maak ná almal gekook en gemors het as om self kos te maak. Sy is mal oor haar man se spinasie-en- feta-dis en sy sjokolade-en-rissie-garnale. Verder is sy baie lief vir souterige kos soos bloukaas en springbokcarpaccio op bruschetta. “’n Lekker braaibroodjie en soesji vir ontbyt is ook lekker,” gesels sy. Haar ma se lasagne en warm “ná-kerk-kaasbroodjies vars uit die oond” vat haar terug na haar kinderdae: “Dit maak my hart sommer warm!”
LEES OOK: Steak met knoffelbotter en sampioensous
4 porsies
Bestanddele
600 g beesfilet (beeshaas)
8 skyfies ham
100 g bloukaas, gekrummel
300 g (1 blik) sampioenroomsous met kaas (Denny)
swartpeper na smaak
5 ml (1 t) sout
100 g (1/5 blok) botter
LEES OOK: Le Creuset: Pangeskroeide beesfilet met rooiwynsous en geroosterde tamaties
Metode:
Stel oond op 180 °C.
- Plaas filet op ’n groot genoeg stuk foelie wat dubbeld gevou is met blink kant na binne.
- Sny filet in lengte deur, maar nie heeltemal oop nie. Dit moet net kan oopvou.
- Smeer filet goed met botter.
- Pak skyfies ham in oopgevlekte filet en krummel bloukaas oor.
- Giet sampioensous oor en geur met swartpeper.
- Vou filet toe, smeer oorblywende botter aan buitekant en sprinkel sout oor. Indien verkies, kan dit op ’n paar plekke met tou vasgebind word.
- Vou foelie om filet en vou bokant asook kante van foelie toe.
- Plaas in oondbak en bak vir 45 minute tot gaar.
- Maak foelie oop en rooster onder oond se element tot ligbruin.
- Sit saam met groenslaai voor.