Ons weet wat maak jy hierdie naweek vir ontbyt – eierflorentyns met Engelse muffins!
4 porsies
Bestanddele
4 eiers
15 ml (1 e) witasyn
groot klont botter
5 00 ml (2 k) babaspinasie, gewas en fyngekerf
sout en peper na smaak
4 Engelse muffins, gehalveer
1 tamatie, in skyfies gesny
HOLLANDAISESOUS
2 eiergele
15 ml (1 e) suurlemoensap
knypie sout
knypie witpeper
1 25 g (¼ blok) botter, in blokkies gesny
MAAK OOK: Malvalekkerpaaseiers
Metode
- Verhit klein kastrol halfvol met water. Voeg witasyn by en verhit tot water net wil begin borrel.
- Breek eier in koppie en laat gly stadig in baie warm water in.
- Posjeer eier in kokende water vir vyf minute, skep met gaatjieslepel uit en plaas op bord.
- Posjeer oorblywende eiers op dieselfde manier.
- Smelt botter en soteer spinasie saam met bietjie sout en peper tot verwelk.
- Sny muffins in helfte deur en rooster of braai aan elke kant tot brosserig.
- Braai tamatieskyfies indien verkies.
- Sous Verhit genoeg water in kastrol en plaas glasbak op sodat dit nie aan water raak nie.
- Plaas eiergele, suurlemoensap, sout en peper in glasbak. Roer met ballonklitser sodat dit dik raak. Draai hitte van stoofplaat laer sodat glasbak nie te warm raak nie.
- Voeg botter blokkie vir blokkie by terwyl jy aanhoudend roer. Roer eers vorige botter weg voordat jy nog botter byvoeg.
- Moenie dat mengsel te warm raak nie, anders gaan dit skif. Verwyder van hitte. Voeg ’n druppel of twee kookwater by hollandaisesous indien jy dunner sous verkies.
- Plaas spinasie en tamatie op halwe muffin gevolg deur geposjeerde eier met hollandaisesous bo-oor.