Hoewel dit nie vinnig is om te maak nie, lyk hierdie aartappelskyfies baie treffend. Jy kan natuurlik die makliker uitweg kies en net gewone aartappelskyfies maak en dit met die grasui-en-dille-sout en die suurroomsous bedien.
AARTAPPELS
Bestanddele
4 aartappels, geskil
50 g margarien, gesmelt
vars dille
grasui-en-dille-sout
Metode
Stel die oond op 200 °C.
1 Sny die aartappels so dun as wat jy kan.
2 Hou die aartappelskyfies twee-twee bymekaar. Smeer die onderste aartappel van elke twee met gesmelte margarien, plaas ‘n dilleblaar op, sprinkel met sout en plaas die ander aartappelskyfie bo-op. Voltooi al die skyfies en pak op ‘n bakplaat uit.
3 Plaas nog ‘n bakplaat bo-op die aartappelskyfies met iets swaar, soos ‘n baksteen, om dit plat te druk. Bak vir 10 minute.
4 Verwyder die boonste bakplaat en bak vir ‘n verdere 10 – 15 minute tot goudbruin en bros.
GRASUI-EN-DILLE-SOUT
Bestanddele
¼ k (60 ml) gekapte grasuie
¼ k (60 ml) gekapte dille
¼ k (60 ml) growwe sout
Metode
Stel die oond op 180 °C.
1 Verwerk die grasuie en dille in ‘n voedselverwerker tot fyn. Voeg die sout by en verwerk tot alles fyn is.
2 Gooi in ‘n bakplaat en bak vir ‘n halfuur. Roer dit sodra die helfte van die tyd verstreke is. Laat afkoel en maak weer fyn indien nodig.
GRASUI-EN-DILLE-SUURROOMSOUS
Bestanddele
150 ml suurroom
30 ml (2 e) vars grasuie, fyngekap
15 ml (1 e) vars dille, fyngekap
15 ml (1 e) melk
sout en varsgemaalde swartpeper, na smaak
Metode
1 Meng al die bestanddele in ‘n voedselverwerker.
2 Plaas die sous vir ongeveer ‘n uur in die yskas voor opdiening.