Vetkoek met kerriemaalvleis is een van ons gunsteling-kombinasies!
6 tot 8 porsies
Bestanddele
Vetkoek
500 g (4 k) witbroodmeel
500 g (4 k) bruinbroodmeel
20 g (2 pakkies) kitsgis
10 ml (2 t) sout
875 ml (3½ k) louwarm water
15 ml (1 e) olie
750 ml (1 bottel) olie vir diepvetbraai
Kerriemaalvleis
bietjie olie
1 ui, gekap
5 ml (1 t) knoffel, gekap
5 ml (1 t) droë pietersielie
15 ml (1 e) matige kerriepoeier
5 ml (1 t) borrie
knypie gedroogde koljander
knypie fyn kaneel
600 g beesmaalvleis
15 ml (1 e) appelkooskonfyt
30 ml (2 e) tamatiepasta
2 ml sout
knypie swartpeper
Metode
- Vetkoek Meng witbroodmeel, bruinbroodmeel, kitsgis en sout saam.
- Meng water en olie. Roer by meelmengsel. Voeg nog ’n bietjie water by indien nodig om elastiese, maar nie stywe deeg nie, te kry.
- Knie vir vyf minute. Bedek en laat rys op warm plek vir ongeveer een uur.
- Rol deeg in lang rol en sny ongeveer 8 cm lang stukke sodat jy agt vetkoeke kan maak.
- Plaas gesnyde vetkoeke op bakplaat wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek wat met olie gesmeer is en laat op warm plek vir ongeveer een uur rys.
- Verhit genoeg olie tot goed warm en braai vetkoeke daarin tot gaar.
- Kerriemaalvleis Verhit olie en soteer ui, knoffel en pietersielie tot ui sag is. Roer kerrie, borrie, koljander en kaneel by. Soteer twee minute.
- Voeg maalvleis by en braai tot verkleur.
- Roer appelkooskonfyt, tamatiepasta, sout en peper by.
- Skep in vetkoeke en sit warm voor.