Eet lekker met min. Die basiese bestanddele is in jou koskas. Vir dié resep het jy net een of twee ekstra bestanddele nodig vir ’n heerlike gereg.
Broccoli-en-kaas-pasta
4 porsies
500g (1 pak) pasta
BROCCOLISOUS
400 g (1 k) broccoli, in klein blommetjies gebreek
klont botter
1 ui, gekap
2,5 ml (½ t) vars knoffel, gekap
2,5 ml (½ t) droë pietersielie
45 ml (3 e) botter
45 ml (3 e) koekmeel
½ blokkie hoenderaftreksel, gekrummel
625 ml (2½ k) warm volroommelk
2 ml sout
knypie rooipeper
500 ml (2 k) cheddarkaas, gerasper
1 Kook pasta tot al dente in borrelende kookwater waarby 5 ml (1 t) sout en 10 ml (2 t) olie gevoeg is.
2 Dreineer pasta. Roer bietjie ekstra olie deur pasta, bedek en hou eenkant.
3 Broccolisous Plaas broccoli in glasbak. Voeg 30 ml (2 e) water by en bedek met kleefplastiek.
4 Kook op hoog in mikrogolf vir 5 minute. Laat broccoli bietjie afkoel en trek kleefplastiek entjie weg. Giet ekstra water af.
5 Verhit klont botter in kastrol en braai ui, knoffel en pietersielie tot ui sag is.
6 Voeg 45 ml (3 e) botter by uimengsel. Roer koekmeel by tot bal vorm.
7 Roer gekrummelde hoenderaftreksel by warm melk en roer tot hoenderaftreksel opgelos is.
8 Voeg warm melk by inhoud en roer tot sous glad is. Laat sous kook tot dit borrels maak. Laat borrel vir een minuut.
9 Verwyder van hitte en roer sout, rooipeper en kaas by. Meng goed.
10 Roer broccoli by en skep oor pasta.
11 Sit warm voor.