Met hierdie ryk en donker kolwyntjies met koffiegegeurde versiersel behoort jy ’n boer te kan troos!
Koffiekolwyntjies
18 kolwyntjies
BESTANDDELE
125 ml (½ k) kookwater
10 ml (2 t) koffiepoeier
125 ml (½ k) melk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
360 ml (190 g) koekmeel
60 ml (30 g) kakao
5 ml (1 t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) koeksoda
1,25 ml (¼ t) sout
120 ml (115 g) botter
120 ml (100 g) suiker
120 ml (100 g) bruinsuiker
1 groot eier
VERSIERSEL
250 ml (225 g) sagte botter
540 ml (285 g) versiersuiker
7,5 ml (1½ t) vanieljegeursel
7,5 ml (1½ t) koffiepoeier
METODE
Verhit oond tot 180 °C en voer kolwyntjiepanne met papiertjies uit.
1 Meng kookwater en koffiepoeier tot opgelos en voeg melk en vanieljegeursel by.
2 Sif meel, kakao, bakpoeier, koeksoda en sout saam.
3 Klop botter en suiker tot lig en donsig.
4 Klits eier by tot goed gemeng.
5 Voeg meelmengsel en koffie om die beurt by mengsel en roer.
6 Skep kolwyntjies twee derdes vol.
7 Bak vir 20 minute tot gaar.
8 Versiersel Klop botter tot lig.
9 Voeg versiersuiker, vanieljegeursel en koffiepoeier by en klop tot donsig.
10 Skep versiersel in spuitsak en versier kolwyntjies.
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.