Bobotie is ’n trots Suid-Afrikaanse dis wat nie sommer teleurstel nie. Probeer gerus hierdie resep
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS, Assistent SUZANNE CROZIER
6 tot 8 porsies
Bestanddele
bietjie olie
2 uie, gekap
5 ml (1 t) vars knoffel, gekap
5 ml (1 t) droë pietersielie
20 ml (4 t) kerriepoeier
5 ml (1 t) borrie
800 g beesmaalvleis
2,5 ml (½ t) sout
0,5 ml swartpeper
45 ml (3 e) blatjang
15 ml (1 e) worcestersous
5 ml (1 t) bruinasyn
125 ml (½ k) sultanas
500 ml (2 k) vars witbroodkrummels
EIERBOLAAG
125 ml (½ k) volroommelk
2 eiers
2 lourierblare
LEES OOK: Eenpotmaalvleisgereg
Metode
Stel oond op 180 °C.
- Verhit olie en soteer uie, knoffel en pietersielie tot uie sag is.
- Voeg kerriepoeier en borrie by en soteer vir een minuut.
- Voeg maalvleis by en braai tot verbruin.
- Voeg sout, peper, blatjang, worcestersous en asyn by maalvleismengsel.
- Roer sultanas en witbroodkrummels by. Prut oor lae hitte vir nog vier minute.
- Skep maalvleismengsel in oondbak van 20 cm x 30 cm.
- Bolaag Klits melk en eiers saam. Giet oor bobotie.
- Plaas lourierblare bo-op.
- Bak vir 40 minute of tot goudbruin en bolaag gestol is.