Pieter Koen deel sy resep vir ’n lekker biltongpot met ons
Pieter Koen sê hy sal homself nie ’n ywerige, volronde kok noem nie, maar liewer ’n ongelooflik ywerige braaier! “Ek het die geringste verskoning nodig om ietsie op die kole te gooi en dit gebeur gewoonlik dat die lekkerste kuier in die voorbereiding van die vleis, die pak van die braaier en daardie eerste reuke van die brandende hardekool lê. Hierdie liefde vir braaivleis en die gepaardgaande bykosse is in my kinderdae gekweek. My pa is tot vandag toe die beste braaier wat ek geken het en ek het geleer om familietyd met ’n braai by Pa se lapa te vereenselwig. My ma het altyd die perfekte krummelpap gemaak en nooit genoeg van haar heerlike sheba met ons gedeel nie.
Pieter Koen se biltongpot
8 porsies
Bestanddele
bietjie olie
4 uie, gekap
1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
1 ℓ warm water
1 hoenderaftrekselblokkie
5 ml (1 t) droë gemengde kruie
1 ml sout
knypie peper
500 g (1 pak) groot skulppasta
5 00 g (2 pakkies) sampioene, in skyfies gesny
500 g biltong, gekerf
48 g (1 pakkie) Royco-kitskaassous
250 ml (1 k) kookwater
250 ml (1 k) suurroom
5 00 ml (2 k) cheddarkaas, gerasper
Metode
- 1 Verhit olie en soteer uie en soetrissie tot ui sag is.
- 2 Meng warm water, hoenderaftreksel, gemengde kruie, sout en peper goed. Voeg by uimengsel in kastrol.
- 3 Voeg pasta by vloeistof in kastrol. Kook tot pasta amper gaar is.
- 4 Meng sampioene en biltong by pasta en roer goed deur.
- 5 Meng kitskaassous en kookwater met vurk vir 1 minuut.
- 6 Meng suurroom ook by kitskaassous en voeg by bestanddele in kastrol.
- 7 Voeg kaas by en roer deur.
- 8 Plaas deksel op en laat oor lae hitte prut tot pasta sag is.
- 9 Sit warm voor.