Dié mini-kaaskoekies werk ongeveer R6 per porsie uit. Jy kan dus vir ongeveer R144 vir 24 mense ‘n porsie kaaskoek bedien wat baie goedkoper is as om ‘n groot koek te bak wat drie houertjies roomkaas gebruik.
Deur: Valerie Slabbert
Kors:
- 300g koekies (ek hou van die karameltennisbeskuitjies)
- 150g botter of margarien
- (Indien jy ‘n minder soet koekie gebruik voeg so eetlepel of wat strooisuiker by)
- LEES OOK: Oreokaaskoekies
Vulsel:
- 1 x 250 g houer volvetroomkaas (Lancewood het nou ‘n volvetweergawe, asook Woolworths en natuurlik Philadelphia)
- 100 ml room (dit verhoog die vetinhoud van die vulsel wat dit laat stol – baie keer as jy laevetroomkaas gebruik stol die kaaskoek nie)
- 4 eetlepels koekmeel (50 ml)
- 300ml strooisuiker (250 g) (as ek nie strooisuiker het nie maak ek gewone suiker fyn in die voedselverwerker)
- 4 eiers
- 2 teelepels vanieljegeursel
- 1 x 250 ml houertjie suurroom
- LEES OOK: Sterkos: Elma Postma se kaaskoek
Bolaag:
- 1 x 250 ml houertjie creme fraiche (R22-95 by woolworths)
- 1 eetlepel (12,5 ml) versiersuiker
- 1 eetlepel (12,5 ml) suurlemoensap
- Bessies (ek het frambose gekry by Impala vir R20 ‘n houertjie)
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C. Voer 2 kolwyntjiepannetjies (dus 24 holtes) met kolwyntjiepapiertjies.
- Kors: Maak die beskuitjies fyn (ek gebruik die voedselverwerker dis baie vinnig – anders rol dit in ‘n plastieksakkie dan mors jy nie krummels die hele kombuis vol nie). Voeg die botter/margarien en strooisuiker by (indien enige) en mikrogolf vir so 2 minute tot gesmelt. Druk die kors vas in die onderkant van die kolwyntjiehouertjies (ek gebruik ‘n eetlepel).
- LEES OOK: Papawer-en-suurlemoen-koek
- Vulsel: Klits die roomkaas, room, koekmeel en strooisuiker saam (gebruik jou k-beater dat jy nie te veel lug in die mengsel klits nie). Voeg die eiers een vir een by en skraap die kante tussen elke byvoegsel. Voeg die vanieljegeursel en suurroom by en meng goed. Gooi in die kolwyntjieholtes tot amper vol – ek gooi die vulsel in my glasmaatbeker en gebruik dié om dit in die holtes te gooi – baie vinniger as om dit met ‘n lepel te doen).
- Bak vir 20 minute teen 160°C. Dit sal nog so effens dril as dit uit die oond kom. Moenie dit langer bak nie dan bak dit droog. Dit lyk ook opgepof as dit uit die oond kom – dit sak mooi af en word plat as jy dit uit die oond haal en dit begin afkoel. Laat dit afkoel in die pannetjies.
- Bolaag: Meng die creme fraiche, suurlemoensap en versiersuiker (jy kan meer versiersuiker of suurlemoensap byvoeg afhangende van smaak). Skep ‘n gul teelepel vol op elke kaaskoekie en versier met bessies.