Die drankie is soortgelyk aan ‘n Bloody Mary, maar word met vars tamaties en basiliekruidvodka gemaak.
Bestanddele
2 groot, ryp tamaties
5 ml (1 t) suiker
30 ml (2 e) basiliekruidvodka (sien nota)
knippie sout
varsgemaalde swartpeper, na smaak
worcestersous en Tabasco, indien verkies
vars basiliekruidblare
Metode
1 Verwerk die tamaties met die suiker tot glad. Voeg die vodka, sout, peper en ander geurmiddels na smaak by.
2 Gooi ys in twee glase en verdeel die drankie daarin. Voeg vars basiliekruidblare by.
WENK Nog ‘n lekker idee met die basiliekruidvodka is om dit met aarbeie te meng. Kap twee aarbeie per glas in klein blokkies en meng dit met ‘n eetlepel vodka, baie ys en ekstra vars basiliekruid. Vul die glas op met limonade.
Basiliekruidvodka
Dis baie maklik om kruiedrankies te maak deur die drank wat gebruik word, daarmee te geur. Skeur ongeveer agt groot basiliekruidblare in die helfte en gooi 250 ml vodka daaroor. Binne ‘n uur sal dit al daarna begin smaak, maar laat dit 24 uur staan voor jy dit deur ‘n sif gooi. Vir ‘n nagereg kan jy die basiliekruidvodka met suurlemoensap of enige likeur vervang.
Jy kan met nóg kruie rondspeel: Roosmaryn is onder meer heerlik in vodka saam met lemoensap.