As die man in jou lewe bant of ‘n lae-koolhidraat-dieet volg kan jy hom hierdie Vadersdag met banting-sjokoladebruintjies bederf
Deur VALERIE SLABBERT
Foto HEMA PATEL
Wanneer ‘n mens bant, verander jou smaak en daarom is banting-lekkernye minder soet as die suikerbelaaide eweknieë. As die suikertande saam gaan eet, kan die hoeveelheid xylitol in die resep aangepas word. Die resep is so maklik dat die kleinspan dit ook kan bak. Dis suiker- , gluten- en kilojoulevry .
Ongeveer 16 blokkies
50 g donkersjokolade (Lindt 70% of 85%)
125 ml (½ k) gesmelte botter
4 eiers
250 ml (1 k) amandelmeel
125 ml (½ k) kakaopoeier
125 ml tot 250 ml xylitol (afhangende van hoe soet jy dit verkies)
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) bakpoeier
¼ t sout
50 g pekanneute, grofgekap
Voorverhit oond tot 180°C.
1 Voer vierkantige pan van ongeveer 20 cm met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei.
2 Smelt sjokolade en botter. Klop eiers by. Voeg res van die bestanddele by en meng goed.
3 Gooi mengsel in pan en maak bo-op met rubberspaan of agterkant van lepel gelyk.
4 Bak vir sowat 20 minute tot gaar. Keer uit pan en sny in blokkies wanneer dit afgekoel het.
Wenke
· Moenie die bruintjies te lank bak nie – ‘n tipiese bruintjie is nog klam en taaierig in die middel.
· Vir ‘n heerlike grondboontjie-weergawe kan die halwe koppie gesmelte botter met ‘n halwe koppie suiker- en soutvrye grondboontjiebotter vervang word (dis gewoonlik die een met die geel deksel) en die pekanneute kan weggelaat word.