Zanne Stapelberg deel haar skoonma, Marie-Louise de Lange, se baklavaresep met Vrouekeur.
“Toe ek en my man begin uitgaan (ek was maar 16!) en ek by hulle gaan kuier het, het sy ma altyd vir ons tee en baklava gemaak. Dan het ons om die tafel gesit en oor die lewe gefilosofeer of oor mooi boeke gepraat. Elke keer as ek dit maak, neem dit my na daai magic tyd terug.”
12 porsies
Bestanddele
500 g (1 pak) fillodeeg
250 g (½ blok) botter, gesmelt
200 g (2 x 100 g-pakkies) okkerneute, gekap
15 ml (1 e) fyn kaneel
15 ml (1 e) suiker
5 ml (1 t) fyn naeltjies
Stroop
750 ml (3 k) suiker
750 ml (3 k) water
5 ml (1 t) suurlemoensap
5 ml (1 t) heuning
LEES OOK: Pienk ystervarkies (lamingtons)
Metode
Stel oond op 160 °C
- Meng okkerneute, kaneel, suiker en naeltjies in ’n mengbak.
- Plaas ’n vel fillodeeg in ’n gesmeerde oondbak van ongeveer 18 cm x 28 cm. Sny fillodeegvelle as dit nie in die bak pas nie.
- Skep gesmelte botter bo-oor en versprei dit oor die oppervlak. Herhaal tot die helfte van die deeg op is.
- Strooi die neutmengsel eweredig oor die fillodeeg.
- Plaas die res van die fillodeeg bo-op en versprei botter tussen elke fillodeeglaag tot fillodeeg en gesmelte botter klaar is.
- Sny die boonste laag met ’n skerp skêr in ’n diamantpatroon. Spat ’n bietjie water op en bak dit vir 30 minute tot goudbruin.
- Stroop Plaas al die bestanddele vir stroop saam in ’n kastrol. Verhit tot kookpunt en laat nog 10 minute kook vandat dit begin borrel het.
- Giet warm stroop oor sodra die warm baklava uit die oond kom.