Tuile is een van die maklikste goed om te bak. Dit kan in enige vorm gesmeer word en soms gebruik ek dit as versiering op ’n koek
Tuiledeeg
14 bakkies
Bestanddele
180 ml (150 g) suiker
3 groot eierwitte
120 ml (115 g) botter, gesmelt en afgekoel
115 ml (60 g) koekmeel
5 ml (1 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) kakao
Metode
1 Klits suiker en eierwitte tot goed gemeng.
2 Gooi gesmelte botter by en meng.
3 Gooi meel en vanieljegeursel by en meng. Laat beslag vir vier uur in yskas rus.
4 Voorverhit oond tot 180 °C en voer bakplaat met kleefwerende bakvel (sil pad) uit.
5 Skep 80 ml van beslag uit en meng met kakao. Skep in spuitsak.
6 Skep lepel vol beslag op vel en sprei met lepel in sirkelvorm. Spuit patrone met bruin beslag op. Bak net twee sirkels op ’n slag.
7 Bak vir 9 tot 10 minute, totdat koekie goudbruin is. Verwyder ná 10 sekondes van vel en plaas warm koekie op omgekeerde glas. Vorm netjies en laat afkoel.
8 Stoor in lugdigte houer tot benodig.
WENK Geur jou beslag met amandelgeursel of kaneel om by die roomys te pas
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.