Die 26-jarige Aviv Liebenberg is die sjef aan stuur van sake by die nuwe Reuben’s-restaurant by Abalone House & Spa op Paternoster. As jy bietjie wil uithang vir gaste, probeer Aviv se voorgereg met steurgarnale, tamatie en avokado.
12 koningingrootte garnale, koppe verwyder en skoongemaak
1 avokado, in 1 cm-blokkies gesny en in suurlemoensap gedoop
2 konfyttamaties, skil en pitte verwyder en in 5 mm-blokkies gesny
2 groen brandrissies, in klein ringetjies gesny
3 rooi radyse, in dun ringetjies gesny
100 g botterslaai
SOUS
100 ml mayonnaise van goeie gehalte
20 ml (4 t) tamatiesous
5 ml (1 t) worcestersous
10 ml (2 t) brandewyn
’n skeutjie Tabasco
1 Kook steurgarnale in kokende water vir 3 minute. Skok in yswater.
2 Gooi water af as dit afgekoel het en druk droog.
3 SOUS Meng bestanddele saam.
4 Rangskik botterslaai in glas en sit tamatie- en avokadoblokkies bo-op.
5 Skep sous op een helfte van glas en rangskik drie garnale op glasrand.
6 Garneer met brandrissie en radyse.