In die Vrouekeur-uitgawe van 17 Februarie 2012, gesels ons met Andy en hy deel ook ‘n resep vir Thaise rooikerrie-maalvleiseiers. Dis egter nie al wat dié man in die kombuis kan optower nie. Hier is sy resep vir geroosterde varklies.
Geroosterde varklies met geroomde bone
6 porsies
Bestanddele
VARKLIES
1,5 kg ontbeende varklies, met vel waarin kepe gesny is
45 ml (3 e) olyfolie
7,5 ml (1½ t) vinkelsade
15 g vars roosmaryn, fyngekap
sout en peper
paar uie
490 ml hoenderaftreksel
BONE
15 ml (1 e) olyfolie
30 ml botter
2 salotte, fyngekap
150 ml hoenderaftreksel
15 g vars roosmaryn, fyngekap
160 ml dubbeldikroom
2 knoffelhuisies, fyngekap
1,2 kg (3 x 400 g-blikke) cannellini-bone, gedreineer
sout en peper
30 ml (2 e) pietersielie, fyngekap
Metode
Stel oond op 220 °C.
1 Vark Kook ketel vol water. Hou varklies skuins vas en gooi kookwater daaroor. Dit sorg vir lekker bros krakeling.
2 Druk vleis droog en smeer aan albei kante met olyfolie, vinkelsade en roosmaryn in. Geur met sout en peper.
3 Sny uie se ente af en dan in helfte. Plaas op bodem van roosterpan. Dit keer dat onderkant van vleis brand en gee ook heerlike geur aan sous.
4 Plaas vleis velkant bo-op uie in pan en bak vir 20 minute. Gooi 240 ml van aftreksel oor, bak nog 20 minute en voeg nog 240 ml aftreksel by. Vel moet nou goed bros wees. As krakeling nie reg is nie, bak nog 20 minute.
5 Verlaag temperatuur na 135 °C, voeg laaste aftreksel by en bak vir 2½ uur. Kyk elke 20 min en gooi nog bietjie water by as aftreksel weggekook het.
6 As vleis gaar is, verwyder uit oond en laat vir 15 minute eenkant rus.
7 Bone Skraap pan terwyl vleissous nog warm is en giet in klein kastrol. Laat effens afkook. Hou eenkant.
8 Verhit olyfolie en botter en soteer salotte vir 3 minute tot sag. Voeg knoffel en roosmaryn by en soteer vir 2 minute.
9 Voeg room en aftreksel by. Verhit tot kookpunt, draai hitte laer en laat kook af tot sous ? minder is.
10 Voeg bone by en verhit tot deurwarm. Geur met pietersielie, sout en peper en hou warm.
11 Sny vark in ses gelyke dele. Bedien deur bone op borde te skep, gevolg deur porsie vark en met warm pansous te bedruip.