Om jou eie aftreksel te maak, is ’n kuns wat ons oumas vervolmaak het. Ons deel die geheime
Basiese bruinaftreksel
ongeveer 1 liter
BESTANDDELE
500 g beesvleis en bene
1 ui, gekap
1 wortel, gekap
1 selderystingel, gekap
2 pietersielietakkies
1 lourierblaar
2 tiemietakkies
3 peperkorrels
1,5 ℓ koue kraanwater
METODE
1 Verhit olie in groot kastrol en braai vleis en bene tot bruin. Skep uit en hou eenkant.
2 Gooi ui, wortels en seldery in kastrol en verbruin.
3 Skep vleis en kruie by groentemengsel.
4 Gooi water by mengsel.
5 Bring mengsel stadig tot kookpunt en draai hitte dan na ’n stadige prut af.
6 Skuim sal later op oppervlakte begin vorm. Skep aanhoudend af.
7 Laat aftreksel vir 6–8 uur stadig prut.
8 Dreineer en laat soliede bestanddele agter.
9 Laat heeltemal afkoel. Sit in sakkies en vries vir latere gebruik.
WENKE
Die vleis en groente moet baie goed verkleur wees. Dis waar al die geure lê.
Maak seker al die bestanddele is die hele tyd onder water.
Aftreksel moet nooit kook nie, maar stadig prut.
Hoe meer jy die skuim afskep, hoe helderder sal die aftreksel wees.
Hoe langer die aftreksel kook, hoe beter.
Suzanne is al vir die laaste 10 jaar deel van die Vrouekeur-kosspan.
Sy is passievol oor lekker, maklike en gesonde resepte wat almal kan maak.
Sy is mal oor reis, goeie wyn en lekker geselskap.
As sy nie in die toetskombuis is nie, kan jy haar weekliks op KykNET se Die Groot Ontbyt sien of in die klas by Steyns Culinary School waar sy onderrig bied.