Hierdie twee groentes loop saam soos brood en konfyt. Probeer dié lekker aartappel-en-spinasie-gebak
Deur MARLO KITSHOFF-CARSTENS
6 porsies
Bestanddele
8 aartappels
bietjie olie
1 ui, gekap
2 50 g (1 pakkie) sampioene, in skyfies gesny
45 ml (3 e) vars pietersielie, gekap
1 bos spinasie, ontstingel en fyngekerf
sout en peper na smaak
30 ml (2 e) parmesaankaas, fyngerasper
3 eiers, geklits
250 ml (1 k) volroommelk
250 ml (1 k) room
250 ml (1 k) mozzarellakaas, gerasper
LEES OOK: Hamquiche met aartappelkors
Metode
Stel oond op 180 °C.
1 Kook aartappels vir ongeveer 20 minute in borrelende water waarby 5 ml (1 t) sout gevoeg is.
2 Giet water af en laat aartappels afkoel tot hanteerbaar.
3 Trek aartappelskille af en sny in skywe.
4 Verhit olie en soteer ui, sampioene en pietersielie tot sag. Draai stoofplaat se hitte af.
5 Sit spinasie op sampioene en sit kastrol se deksel op sodat spinasie kan verwelk. Laat staan vir vyf minute op warm stoofplaat en verwyder.
6 Plaas lagie aartappelskywe in oondbak van 20 cm x 30 cm wat met kossproei gespuit is.
7 Sprinkel met sout en peper. Skep helfte van sampioen-en-spinasie-mengsel bo-op.
8 Sprinkel parmesaankaas oor.
9 Plaas weer lagie aartappelskywe, gevolg deur sampioen-en-spinasiemengsel en eindig met aartappellaag. Sprinkel ná elke aartappellaag bietjie sout en peper oor.
10 Klits eiers, melk en room saam. Giet oor aartappelgereg.
11 Sprinkel mozzarellakaas oor.
12 Bak vir 30 minute tot ligbruin.