Daar is ’n hele paar gedragspatrone van mense wat my nie aanstaan nie en een daarvan is stilstuipe.
Ek praat nie van stilwees nie – dit het ons almal van tyd tot tyd nodig. Soms moet ’n mens nie dadelik met mekaar in gesprek tree nie, maar liewer eers stilbly en dink. Ek verwys spesifiek na ’n mens wat jou so doelbewus ignoreer dat die stilte ten hemele skree.
Stilstuipe kom in alle verhoudings voor. Mense ervaar dié behandeling in verhoudings met lewensmaats, kollegas, werkgewers, ouers en vriende. Dié manipulerende gedrag sê egter niks oor die een wat aan die ontvangkant van die stilstuipe is nie, maar spreek boekdele oor die een wat baie sê deur niks te sê nie. Stilstuipe is gewoon onvolwasse.
Diegene wat tans aan die ontvangkant van ’n dawerende stilte is, sal baat vind deur Maretha Botes se artikel oor dié onderwerp in hierdie uitgawe te lees. Hopelik is daar ’n paar stilstuipers wat die artikel ook onder oë kry en besef wat die uitwerking van hul lafhartige gedrag is. William C Hannan stel stilte tussen twee geliefdes baie mooi: “Wat ek wil weet, is wat jy in die stilte tussen ons hoor.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.