Ons bestee die grootste deel van ons dag by die werk. Dit is dus belangrik dat jou werksomgewing en verhoudings met kollegas goed is, want om minstens agt uur per dag in ‘n negatiewe omgewing te wees, kan nie goed vir ‘n mens se welstand wees nie
Net soos slegte verhoudings tussen lewensmaats by die huis ‘n mens se lewe kan vergal en vergiftig, kan dit op kantoor ook die geval wees. ‘n Harmonieuse verhouding by die huis en by die werk kan eweneens verrykend en vervullend wees. Soms is ‘n mens gelukkig en is jou verhouding tuis én by die werk goed.
Ek het reeds verskeie kere op hierdie bladsy van die wonderlike mense in die Vrouekeur-span gepraat. En ek het dit elke keer opreg bedoel. Dit was gewis nie bloot om iets gesê te kry nie. Die artikel, “Bou ‘n wenspan”, gee my egter hierdie week die geleentheid om om spesiaal na die Vrouekeur-span te verwys, want dis ‘n wenspan! Ek het in my lewe al verskeie werke gedoen en het onder meer by ‘n verskeidenheid tydskrifte gewerk, maar ek het nog nooit saam met só ‘n groep uitsonderlike mense gewerk nie. Ons het uiteraard almal verskillende en uiteenlopende persoonlikhede, maar in die bykans ses jaar wat ek in hierdie stoel sit, het ek nog nie een dag wrywing, konflik of onenigheid beleef nie. Net soos geld nog nooit die rede was hoekom ek in ‘n persoonlike verhouding was of is nie, is geld allermins die rede hoekom ek deel van hierdie span bly.
Was dít die geval, het ons almal lankal reeds die pad na groener weivelde gevat. Iets wat baie kosbaarder as geld is, hou ons bymekaar. Ons is die afgelope jare saam deur dik en dun. Heelwat goeie dinge het met ons almal gebeur, maar dit is in moeilike tye wat verhoudings se ware kleure na vore kom. Ons is onder meer saam deur motorongelukke, egskeidings, die dood van geliefdes, ernstige siektes en finansiële krisisse. Was dit nie vir mekaar nie – was hierdie hoofstukke in ons lewens baie moeiliker. Ons is veel meer as kollegas. Ons is vriende. Ons is familie.
Ek voel tussen my Vrouekeur-familie net so veilig soos wat ek tussen my werklike familie voel. Ons staan saam, ons beskerm mekaar, ons ondersteun mekaar, ons lag saam, ons huil saam, ons sukkel saam, ons geniet saam, ons vertrou mekaar – ons hou van mekaar. Met al ons verskillende geite. Raak jy aan die een, raak jy aan die hele span. Soos in enige goeie en gelukkige verhouding, leer ons by mekaar en bring ons die beste in mekaar uit. Dít is wat my elke dag motiveer om kantoor toe te kom en my werk na die beste van my vermoë te doen. Saam met hierdie mense sien ek kans vir die uitdagings van die werk en die lewe.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.