Die gesegde: “Dis nie wat met jou in die lewe gebeur nie, dis hoe jy daarop reageer”, is makliker gesê as gedaan as iets met jou gebeur wat nie van verbygaande aard is nie
As dit ’n lewenslange of lewensveranderende ingryping, toestand of gebeurtenis is, vat dit meer as ’n gesegde om die pad met geesdrif verder te stap. Daar is drie stories in dié week se uitgawe oor mense wat met groot uitdagings leef. Dis die soort uitdagings wat diegene van ons wat gesond en sogenaamd “normaal” is se opdraandes in die lewe bloot na ’n effense helling in die pad laat lyk. Juliana Coetzer se dogter, Anneke, en Engela Fourie se seun, Wiehann, ly albei aan seldsame sindrome. Wiehann is daarmee gebore en Anneke het dit op sewejarige ouderdom gekry. Daar is niks wat dit kan omkeer nie. Dit is hoe dit is. Maar om met “dit is hoe dit is” saam te leef, is soos om elke dag ’n berg te klim. Party dae bereik jy ’n plato wat jou kans gee om jou asem terug te kry, maar om daar uit te kom, moet jy lank steil dele van die bergwand uitklim. Boonop is party Oor berge & molshope berge baie hoog en op hulle kry jy soms weer ’n rotswand in jou pad. Soos Engela sê: “Ons vat dit maar dag vir dag en elke dag bring maar weer sy eie uitdagings”. Juliana wou met die terapeutiese skrywe van Anneke se siekte in haar boek, Bloedvreemd, “betekenis aan my kind se lewe gee”. Dan is daar die liefdesverhaal van twee mense wie se onderskeie ouers waarskynlik moeilik kon dink dat hul kinders ten spyte van hul onderskeie uitdagings eendag hand in hand saam met ’n geliefde die pad sou stap. Die storie van Simone Groenewald en Johan Hugo op bl 14 “Met my hele hart’” het aan my hart geraak. As Michelle, Simone se ma, sê: “… ek wil net die beste vir my kind hê”, bevestig dit vir my dat dit eintlik al is wat ’n ouer begeer – dat dit met jou kinders goed gaan. Dis hoekom dit so moeilik is as iets met hulle gebeur wat jy nie kan wegvat of beter maak nie. As ’n mens in jou pad ’n molshoop kry, moet jy versigtig wees om nie ’n berg daarvan te maak nie. Daar is mense met rêrige berge op hul pad.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.