As die enigste dogter met drie broers, wou ek kleintyd bitter graag ’n sussie gehad het. By nommer vier het my ouers egter besluit dit is nou hoe dit is. Daar gaan nie ’n sussie wees nie.
Eldaleen Hugo
En toe … op die ouderdom van 27 is my geliefde dogter gebore. Ek onthou nog goed hoe sy in die waai van my regterarm gelê het nadat sy die lewenslig aanskou het. Sy was tjoepstil en het met ’n duidelike frons tussen haar twee ogies stip na my gestaar. Hoewel ek nie ’n sussie gehad het nie, was ek so gelukkig om dié mens in my lewe te kry. Nou nog as ek na haar kyk, verwonder ek my aan haar en in gesprekke verstom haar insig my telkens. Daai frons sien ek steeds van tyd tot tyd ná 28 jaar as sy diep dink of glad nie met my mening saamstem nie. Sy is verreweg my gunstelingvrou in die lewe, maar dit beteken nie dat ons altyd oor alles saamstem nie. Ons is twee verskillende mense en gaan dus van mekaar verskil. Op bl 24 is daar hierdie week ’n artikel oor hoe om die band tussen ma’s en hul tienerdogters te behou. Soos gewoonlik kry Ansja Ferreira dit reg om in twee bladsye raad te gee wat die moeite werd is. Een van die belangrikste punte wat vir my uitstaan, is: “Praat mét jou dogter, nie óór jou dogter nie. So baie ma’s van tieners kla gedurig by hul vriende oor hul dogters …” Dit, dink ek, geld ook vir ma’s en hul seuns. Ek stem hiermee heelhartig saam, maar ek dink ook die “fout” wat menige ma (ouer) maak en wat verhoudings met hul tieners bemoeilik, is om nie na hulle te luister nie. Een van Stephen R Covey se stellings: “Die meeste mense luister nie om te verstaan nie, hulle luister om te antwoord”, wat ek so ’n tyd gelede raakgelees het, het my al menige keer daarna in gesprekke waar daar meningsverskille is, daarvan weerhou om vinnig my mening te gee. As ’n mens probeer om ander te verstaan as jy na hul mening luister, gaan ons dalk veel minder met mekaar vassit. Of dit nou in verhoudings met ons kinders, lewensmaats, ouers, kollegas, vriende of familielede is.
SOURCES
Ivan Naude
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.