Ek weet van huwelike wat vir die buitewêreld na sprokiesverhale lyk, maar in die binnekamer is dit ’n gans ander storie
Lank gelede, toe ek nog bitter min van die lewe geweet het, het ’n destydse kennis gesê sy is gelukkig geskei nadat sy ongelukkig getroud was.Twee artikels hierdie week is ter sprake: “Ons trou … wat nou?” en “Die stille mishandeling”. Albei takel kwessies in verhoudings en huwelike.
Nie alle mense hoef te trou om in ’n permanente verhouding te wees nie – die toegewydheid in ’n verhouding het min met die instelling van die huwelik te make. Ek weet van huwelike wat vir die buitewêreld na sprokiesverhale lyk, maar in die binnekamer is dit ’n gans ander storie. Mamma en Pappa bly bymekaar ter wille van of ten spyte van ’n menigte faktore wat met liefde net mooi niks te make het nie.
Ek weet ook van jare lange verhoudings wat nie gekerk is nie, maar waar wedersydse respek, vertroue, deernis, omgee, toewyding en liefde eg en sigbaar is. Hoekom is sekere mense gelukkig getroud en ander sielsongelukkig? Hoekom besluit sekere mense om eerder gelukkig geskei te wees as om ongelukkig getroud te wees? Dis tog onmoontlik om dié vraag op hierdie bladsy te beantwoord, hoor ek jou sê, en jy is doodreg. Daar is immers duisende boeke oor verhoudings geskryf en steeds skei mense. As dié boeke die geheim tot “… and they lived happily ever after” was, het ek nie vandag oor dié onderwerp geskryf nie. Daar is nie ’n geheime resep of ’n towerstaf wat mens kan swaai om ’n verhouding van probleme te vrywaar nie.
Net so min soos wat ’n verhouding ná die bruilof ’n feëverhaal is. ’n Feëverhaal eindig met die bruilof. In die regte lewe is die bruilof, of die aanvang van ’n saamleefverhouding, hoofstuk een van die verhaal. Die hoofstukke wat volg, kan ’n storie maak of breek en dit bepaal ook die genre van die storie wat julle saam skryf. Hoe lyk jul storie? Is dit ’n roman, drama, tragedie of ’n riller? Nie twee verhoudings is identies nie, maar ek sou enigeen wat in ’n verhouding is waar mishandeling van watter aard ook al aanwesig is, sterk aanraai om eerder die pad van “gelukkig geskei” te loop, want die lewe is te lank om ongelukkig getroud te wees. Soms is dit nodig om te sê: “Fluit-fluit, hierdie storie is nou uit.”
Die seremonie was ses minute lank, die huwelik het omtrent net so lank gehou, maar ons is eers baie later geskei – Hedy Lamarr
Egskeiding is altyd goeie nuus. Ek weet dit klink vreemd, maar dis waar, want geen goeie huwelik eindig in ’n egskeiding nie. Dit gebeur net nie – dít sou tragies wees – Louis CK
In elke huwelik wat meer as ’n week oud is, is daar rede vir ’n egskeiding. Die geheim is om voortdurend ’n rede te vind om aan te hou – Robert Anderson
Moenie vir mekaar skree nie – tensy die huis aan die brand is
’n Suksesvolle huwelik vereis dat jy baie keer verlief raak – op dieselfde mens – Mignon McLaughlin
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.