Die punt is dat jou ingesteldheid en jou integriteit (of gebrek daaraan) bepaal word deur dit wat jy herhaaldelik dink, doen, sê en aan blootgestel word
Daar is ’n bekende Cherokeelegende wat ek jare gelede raakgelees het en wat ’n groot indruk op my gemaak het. Die lewenswysheid van die legende het my dikwels al rigting gegee in besluite wat ek moes neem, maar ook in my alledaagse optrede teenoor mense en in die verstaan en verbetering van myself, ongeag die omstandighede.
Daar is in ons almal ’n geveg tussen twee wolwe. Die een is woede, jaloesie, vraatsug, wrok, leuens, minderwaardigheid en ego. Die ander een is vreugde, vrede, liefde, hoop, nederigheid, goedhartigheid, empatie en waarheid. Watter een van die twee wen? Die een wat jy voed. Watter een van jou twee wolwe wen?
Die legende kan mens jou eie maak en jy kan nog kenmerke by albei wolwe voeg, want nie een van die twee is tot net die woorde in die legende beperk nie. En uiteraard is daar daagliks tot ’n mindere of ’n meerdere mate ’n geveg tussen die twee. Die punt is dat jou ingesteldheid en jou integriteit (of gebrek daaraan) bepaal word deur dit wat jy herhaaldelik dink, doen, sê en aan blootgestel word. As jy aanhoudend vir jouself in die spieël kyk en vir jouself sê jy is vet (al is jy nie), gaan jy in jou kop vet (en ongelukkig) bly, want jy grawe daardie breinpaadjie elke dag ’n bietjie dieper. Uiteindelik kan jy in ’n diep, donker gat beland.
Aan die ander kant kan jy ook in die spieël kyk en vir jouself sê jy is rêrig nou heeltemal te rond vir jou eie gesondheid. En jy kan iets daadwerkliks aan die situasie doen. Dan kyk jy elke dag in die spieël met vreugde omdat jy sien hoe die ekstra kilo’s stadig maar seker verdwyn. ’n Slegte selfbeeld oor jou gewig verander dan mettertyd in een van selfwaarde. Só klim jy elke dag ’n bietjie verder uit die breinpaadjie wat jou ou self gegrawe het. En op ’n dag loop jou brein ’n nuwe pad en voel jy sommer ligter. Uit die gesprek met Anneli van Rooyen op bl 8 is dit duidelik watter wolf sy kies om te voed te midde van groot fisieke en emosionele pyn. Ek dink dis nie aldag ’n ewe maklike besluit nie, maar soos die legende sê: Watter een van die twee wen? Die een wat jy voed.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.