Sal dit nie gaaf wees as 2019 minder gewelddadig is nie?
As ek kyk wat als in 2018 wêreldwyd gebeur het, kan ek sê wat ek wil hê ’n hele paar mense anders moet doen. Ek wil hê hulle moet gewetens kry. As jy ’n gewete het, gaan jy nie sommer oorlog verklaar en duisende onskuldige mense se lewens verwoes nie. Jy gaan nie steel nie, jy gaan nie moor nie, jy gaan nie korrup wees nie. Jy gaan nie gierig wees nie. Jy gaan probeer om van die wêreld ’n beter plek te maak.
Sal dit nie gaaf wees as 2019 minder gewelddadig is nie? As die gaping tussen brandarm en skatryk kleiner word nie? As mense in vrede met mekaar saamleef nie, verskille en al? Mense moet besef die aarde is soos ’n bankrekening. Dis nie ’n onuitputbare bron nie. As jy net bly vat, gaan daar later niks oor wees nie. Jy moet iets terugploeg. Wat wil ek in 2019 anders doen? In 2019 wil ek nog meer bewus wees van die gevolge van als wat ek doen. As die gevolge goed is, wil ek meer daarvan doen. As die gevolge sleg is, wil ek minder daarvan doen.
Wat wil jy anders in 2019 doen?
Zerilda Ek wil leer om dit wat buite my beheer is, te laat gaan.
Zerelda Dis pal my voorneme, maar dalk kry ek dit vanjaar reg. Minder bagasie, meer laat gaan, minder jaag, meer rus en minder tegnologie en meer gesinstyd.
Dané Ek wil my vel oppas deur sonslim te wees.
Christa Ek het hard en diep gedink en tot die gevolgtrekking gekom dat ek niks anders wil doen nie – ek leef soos ek wil leef en doen presies wat ek wil doen. Hoe gelukkig kan mens wees!
Natasha In 2019 wil ek probeer om meer bewus te wees van wat om my aangaan en meer moeite doen om geleenthede raak te sien. Elke dag is ’n nuwe avontuur!
Margot Ek wil vanjaar meer stip lewe.
Je’Maine Ek wil vanjaar beslis meer ontspan en prettige dinge doen. Dus minder stres oor goed wat buite my beheer is.
Anlie Ek wil my minder steur aan mense wat húl onsekerhede op my projekteer om my sleg te laat voel.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.