Natuurrampe soos tsunami’s, orkane, siklone, aardbewings en vuurspuwende berge vee binne sekondes ’n leeftyd se bymekaarmaak van goeters en tasbare herinneringe weg. Die verwoesting wat die lawa tans op ’n Hawaiïse eiland aanrig, is ’n sprekende voorbeeld.
Op bl 14 kyk Susan Campbell ’n jaar ná die Knysna-brande terug – sy is een van die vele mense wat al hul besittings in die brande verloor het. ’n Brand gee jou nie kans om lank te dink oor watter goeters jy in ’n boks moet gooi voor jy vlug nie. Ons drang om oorlewing is so sterk dat materiële goed op daai oomblik in jou lewe die plek kry wat dit eintlik moet hê: heel laaste op die lysie. Goeters maak skielik glad nie meer saak nie. Ons gesels in die kantoor oor wat ons sou red as ’n ramp ons tref – dis nou uiteraard afgesien van kinders, geliefdes en troeteldiere.
Wat red jy as jou huis brand?
Margot Foto-albums en van my boeke
Christa Foto’s, my ma se kunswerke en ’n erfstuktafel
Je’Maine My ma se ring en my handsak
Zerelda Klere en tandeborsels en die kinders se skooltasse. Hulle sal steeds skool toe moet gaan!
Anlie My Zara-jeans en skottelgoedwasmasjien.
Dané Handsak, hardeskyf, lêer met belangrike dokumente, lêer met skoolfoto’s, sertifikate en memorabilia
Zerilda Foto’s
Natasha Belangrike dokumente, hardeskywe met foto’s op, soveel boeke as wat ek kan dra en al my sandale
’n Vriendin se huis het ’n paar jaar gelede afgebrand en ek wou by haar weet wat sy op pad uit gegryp het. Haar grootste bekommernis was haar troeteldiere (sy’t nie kinders nie – so dis oukei). Wat van goeters? wou ek weet. “Niks – ek het net die diere en die karsleutels gegryp om weg te kom.” Haar verlies aan goeters was groot – onder meer het sy al haar boeke, waardevolle kunswerke en memorabilia van ’n ryk en vol bestaan in die mediabedryf in ’n paar minute verloor.
En? Wel, die aarde het nie opgehou draai nie – die admin daarna was wel ’n nagmerrie – maar die lewe gaan aan, sonder die verlore goeters. Ek dink mense wat terugkyk na die tyd voor ’n ramp en ná ’n ramp, is dit eens dat die verlies aan goeters nie met die behoud van lewens vergelyk kan word nie. Wat sou ek red? Ek sou ook foto-albums wou red, maar daar is te baie en hulle is dik en swaar. So dis nie ’n opsie nie. Ek sou twee kopermaskers van my kinders se gesigte gryp van toe hulle onderskeidelik 13 en 11 jaar oud was. En my handsak, want daarin is my bestuurslisensie en ID , en om dít te vervang, is ’n ramp op sigself.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.