Ek het ‘n vriend wat ‘n gekwalifiseerde siviele ingenieur, maar ook ‘n opgeleide konsertpianis is. Sy dagboek is propvol, maar al bekruip jy hom in ‘n slegte bui of gebukkend onder die stres van sy wêreld, sal jy hom nie betrap nie.
Hy is ook ‘n kompulsiewe skoonmaker – die stofsuier is naas sy vleuelklavier die een ding waarsonder dié man nie kan nie. En hy sweer by Dolly Parton se Nine to Five vir stofsuig. Niks wat so vinnig ‘n hup in ‘n mens se stap sit vir dié sleurtakie nie.
Artikels op die internet, in tydskrifte en koerantbylaes wemel van raad oor die hantering van stres. Dit op sigself behoort rooi ligte te laat flikker. As daar so baie raad en wenke gegee word vir dié kwaal van ons tyd, moet ons dalk eerder die oorsaak van die kwaal ondersoek. Om telkens die simptome te behandel, is nie ‘n langtermynoplossing nie. Dít is egter makliker gesê as gedaan, want ons is al so gewoond aan ‘n toestand van stres dat ons dink dit is maar hoe dit is.
Ek sal naïef wees om ‘n streslose wêreld te propageer, maar genugtig, hoeveel mense moet nog inkonk, hoeveel van ons moet nog pille drink om angstigheid wat stres meebring te hanteer, voor ons gaan sê: Genoeg! Die eise wat aan mense gestel word, raak net meer. In werksituasies moet mense meer en meer doen (gewoonlik sonder enige ekstra vergoeding), wat beteken die verantwoordelikhede vir die werknemer raak net telkens meer.
En om te protesteer, gaan nie help nie – as jy nie bereid is om dit te doen nie, kan jy gerus groener weivelde gaan soek, is die boodskap en werkgewers en werknemers weet dit is eweneens makliker gesê as gedaan. Gepaardgaande hiermee, raak dit al duurder om te leef. As jy nie in die boonste persentasie van diegene met astronomiese salarisse en bonusse val nie, maak jy soos die meerderheid van ons: Jy sny op alles om die verhoging in alledaagse uitgawes te probeer akkommodeer. Water-en-ligte-rekenings het die afgelope paar jaar met reusespronge gestyg, jaarlikse verhogings van mediesefondsbydraes, polispremies, rentekoerse (wat ‘n domino-effek op onder meer huis- en motorpaaiemente het) gebeur soos klokslag, maar salarisverhogings (weer eens vir die meerderheid) hou gewoon nie hiermee tred nie.
Jy hoef nie ‘n geleerde ekonoom te wees om te weet dat as jou inkomste nie met die styging in jou uitgawes tred hou nie, is dit ‘n resep vir moeilikheid. En moeilikheid bring stres mee. My vraag is: Het mense met miljoene rande wat hulle net as ‘n jaarlikse bonus kry hoegenaamd die vermoë om hulle in die skoene van die werkers te plaas? Dis een ding om te sê jy moet spaar as jy miljoene per jaar kry, maar dis heeltemal ‘n ander storie as dié van werkers wat elke jaar op ‘n klein salarisaanpassing hoop om nie nog verder agter te raak nie.
Of hierdie situasie gaan verander, weet ek sowaar nie. Wat ek wel weet, is dat stres ‘n mens fisiek siek kan maak en tot tyd en wyl ons die oorsaak van stres onder die vergrootglas sit, gaan ons die simptome moet behandel. Naweke is vir my heilig. Dis die tyd wat ek in die beskutte omgewing van ons huis bly en dinge doen wat vir my lekker is en voorkom dat my kop met dít wat my stresvlakke verhoog, doenig is. Ek verf, pak laaie en kaste reg, sorteer admin uit (deurmekaar admin is vir my ‘n groot stressor) en doen sleurtakies soos wasgoed als op die maat van musiek – van Beethoven tot Edith Piaf. Maar stofsuig? Daar het ek by die beste geleer. Dít doen jy nooit sonder Dolly nie!
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.