Die artikel “Die storie van Benita Magiel (en ander vroue)” op bl 12 ondersoek spesifiek geweld teen vroue. Berigte van vroue wat aangerand en vermoor word, is elke dag iewers in die nuus.
Tensy daar na die oorsaak van geweld teen vroue gekyk word, gaan die statistiek nie noodwendig afneem nie. Maar in dieselfde asem moet ‘n mens kyk na geweld wêreldwyd teen alle mense en probeer vasstel hoekom dit gebeur.
En dalk moet ons vra: Hoe dra my optrede tot die bevordering van ‘n gesonde samelewing by en in watter mate is my optrede simptomaties van ‘n samelewing sonder ‘n waardestelsel? Watter soort mense is gewelddadig? Hoekom is sommige mense gewelddadig en ander nie? Wêreldwyd is daar tans onmenslikhede aan die gang. Bomme ontplof, mense word onthoof, kinders word ontvoer, verkragtings vind plaas, mensehandel is ‘n werklikheid, gesinsgeweld is nie ‘n vreemde verskynsel nie, kindermishandeling eweneens. Dit blyk dat menselewens niks werd is nie.
Sulke dade word met afgryse bejeën en tensy jy deel van hierdie groep mense is, is die res van ons dit eens dat sullke dade nie ongestraf gelaat kan word nie. Daar is egter ook ‘n ander soort “geweld” wat daagliks plaasvind. Vir korrupsie, bedrog en allerlei sulke skelmstreke wat nie fisieke geweld behels nie, word baie minder wenkbroue gelig, tensy jy dit aan jou eie bas voel. Soos ons tans in Suid- Afrika beleef met korrupsie op klein en groot skaal.
Hoe kan ek ‘n president en sy trawante van korrupsie beskuldig as ek in my eie omgewing, of dit nou in ‘n werksomgewing of in my persoonlike lewe is, oneerlik, skelm, korrup en bedrieglik te werk gaan? Elke mens kan ‘n verskil in die bevordering van ‘n gesonde samelewing, ongeag ekonomiese, religieuse, ideologiese, geografiese en kulturele onderskeid maak. Om humanitêr teenoor jou medemens op te tree en ‘n eerlike bestaan te voer, is egter nie ‘n eienskap wat ‘n mens kry deur deel van ‘n ideologiese groep te wees nie.
Ek weet van Christene, Moslems, Boeddhiste, Hindoes, ateïste … noem die kategorie, wat medemenslikheid en humanisme gemeen het. Geweld en korrupsie is nie deel van hul menswees nie. Maar ek weet ook van Christene, Moslems, Boeddhiste, Hindoes, ateïste … noem die kategorie, wat nie sulke gawe mense is nie. Geweld wêreldwyd, nie alleen teenoor vroue nie, maar teenoor alle mense, is nie te betwis nie. Net soos korrupsie op alle vlakke in die samelewing, of dit nou in mense se persoonlike lewens, in maatskappye of in regerings is, aan die orde van die dag is.
Fisieke geweld word veroordeel, maar moet ons nie dalk nie-fisieke geweld net so sterk veroordeel nie? Albei raak ‘n gewoonte. Albei verwoes menselewens en uiteindelik ‘n samelewing. Ek vra weer: Hoe dra my optrede tot die bevordering van ‘n gesonde samelewing by en in watter mate is my optrede simptomaties van ‘n samelewing sonder ‘n waardestelsel, ongeag my ideologie?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.