Vul jou lewe met ondervindings, nie met goeters nie
Dis nie verbasend dat die artikel op bl 26 “Tyd vir afskaal” hierdie week my aandag getrek het nie. Dis presies waar ek is – ek skaal af.Jy weet jy is op daardie punt as jy skilderye en meubels waaraan jy eens op ’n tyd verknog was vir jou kinders gee en dit wat hulle nie wil hê nie, verkoop jy. As jy in die kombuiskaste invlieg en als wat jy vir drie maande nie gebruik het nie, uitgooi. As jy jou boekrakke takel en net die boeke hou wat vir jou onmisbaar is.
Hoe meer ek uitgooi, hoe meer wil ek uitgooi. Dis asof ek in die proses sommer ook van ’n klomp emosionele bagasie ontslae raak. Moet net vir geen oomblik dink ek sien dit as deel van sogenaamde oudword nie. Daarvoor is ek nog te opgewonde oor die lewe en dit wat nog voorlê. 60 is immers die nuwe 40! ’n Vraag aan bekendes wat jy soms in tydskrifartikels lees, is: “Watter raad sou jy aan jou jonger self gegee het met die insig wat jy nou het?” Ek sou ’n mondvol vir my jonger self kon gee, waarvan een van die wyshede sou wees: Vul jou lewe met ondervindings, nie met goeters nie. Ek wil nie meer so baie goeters hê nie. Daarmee sê ek vir geen oomblik dat ek nie daarvan hou om my huis mooi te maak nie. Dít sal ek altyd doen en om in ’n plek te woon wat net funksioneel is, sal my uiters bedruk maak.
Dis net dat ek nie meer so baie dinge wil hê om oor te bekommer en te onderhou nie. Ek wil eerder reis en om dit te kan doen, het mens geld nodig. Ek het onlangs somme gemaak en agtergekom dat dit wat mens op die onderhoud en beveiliging van ’n huis uitgee ’n aardige bedrag beloop. Die geld wat ek daarop uitgee, is genoeg om vir my reise te betaal. Dis nie asof ek in ’n kasarm van ’n huis woon nie – 11 jaar gelede met die koop van die huis was die feit dat dit ’n klein huisie sonder prag en praal was, juis wat my aangetrek het. En in dié huisie het ek baie lekker gewoon, maar dit is nou tyd vir ’n nog kleiner plek en die ontdekking van nuwe plekke.
Dis tyd vir ’n nuwe hoofstuk. Een waar minder meer is. So lees ek onlangs raak wat iemand wat soos ek dink, geskryf het: ‘When you own less stuff, you find more money, more freedom, less stress, and less worry – it’s almost surprising more people haven’t discovered it yet’
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.