Om elke dag ‘n venstertjie van ‘n Adventskalender oop te maak, het my kinders altyd baie opgewonde gemaak. Nou’s hulle groot en dié gebruik is uiteraard nie meer deel van my huisie nie.
Hierdie jaar probeer ek iets nuuts: Tot en met die einde van die jaar wil ek elke dag iets neerskryf waaroor ek opgewonde, dankbaar of gelukkig is. Dalk help dit ‘n mens om jou te laat nadink en halwe glase vol te skink!
Vyf dinge om mee te begin:
My kinders is gelukkig en gesond.
Ek en my geliefde is gelukkig en gesond.
My ouers is op 81 en 80 steeds gelukkig en gesond.
Ek het drie asemrowende (gesonde) broers.
Ek doen ‘n werk waarvan ek baie hou saam met wonderlike mense
CHRISTA Ek is dankbaar …
… dat ek in my eie huis kon intrek
… vir die nuwe vriende wat ek gemaak het
… dat ek my 20ste jaar kankervry kon vier
… dat ek my kinders en kleinkinders om my het.
ZERELDA Ek’s dankbaar vir en so baie bly oor mense wat my liefhet en vir my lawwe grappies lag; vir ‘n huis met ‘n gawe man wat dink ek’s wonderlik, kinders wat lag en ‘n hond wat ‘n dieet kort; en vir woorde en boeke en mooi goeters wat my lewe volmaak.
ANLIE Ek’s dankbaar vir die geleentheid om ‘n wit Kersfees in Duitsland te beleef.
Ek’s ook dankbaar vir familie en vriende wat vir my lief is en om elke dag lekker saam met my malkopkollegas te lag.
ZERILDA Ek’s dankbaar vir vriende en familie wat omgee; ‘n wêreld waar ons vryheid van spraak en geloof het; en die vars reuk van reën.
JE’MAINE Ek’s dankbaar vir gesonde kinders; my pa se suksesvolle knievervanging en ‘n oulike man wat my liefhet.
NATASHA 2016 was die jaar van reis vir my: Dit het begin met die nuwe jaar in Ponta do Ouro, Mosambiek, en vuurwerke kyk oor die see op die strand; diepseevisvang, swem met dolfyne en ‘n oorvloed van seekos.
Ná jare se beplanning en spaar is ons ook Thailand toe. Die hoogtepunt was om op ‘n boot by Maya Bay te kon oorslaap. Ons toergroep kon die eiland alleen geniet (die res van die toeriste moes voor sonsondergang terug Phi- Phi-eiland toe). Ons het gebraai en gesnorkel. Die sterre was ongelooflik helder. Ek kook steeds net Thaikos by die huis.
Die kersie op die koek was om die groot migrasie in Tanzanië te sien. Dit was my gunstelingvakansie, want dit was hier waar ek verloof geraak het met ‘n piekniek op die Serengeti-vlakte terwyl buffels en olifante vir ons geloer en die son oor die horison gesak het.
DANÉ Ek kon vanjaar Paasfees in Israel en Jordanië deurbring.
Ek was ook in Nederland, Parys, Duitsland en België.
Ek het Johannesburg toe getrek en bly so lekker hier!
MARGOT Ek’s dankbaar vir my dogter uit Swede se besoek en vir my twee reise: een na Namibië en een na Italië.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.