Dis weer die maand waarin vroue wêreldwyd erkenning kry. Persoonlik het ek ietwat van ‘n kwelling oor sulke dae of maande, want om enigiets of enigiemand te moet erken deur dit so te propageer, beteken tog dat daar ‘n probleem met die erkenning van iets of iemand in die alledaagse lewe is. Of dit nou Vrouedag, Vadersdag of Menseregtedag is.
Maar my mening is nie die enigste mening nie en daar sal diegene wees wat my argument betwis deur te sê dit is minstens beter as niks. Hoe dit ook al sy, ‘n mens kan nie ontken dat vroue deur die eeue heen dikwels aan die kortste ent getrek het nie. Ek het onlangs op sosiale media op ‘n plasing afgekom van ‘n paar wenke wat Landbouweekblad in 1944 vir “die vrou” gegee het om basies “haar plek te ken”. Hier is dit … lees dit en lag. Of lees dit en ween. Of lees dit en verstaan hoekom ek die volgende twee mense aanhaal:
Om te verstaan hoe enige samelewing funksioneer, moet jy die verhouding tussen die mans en vroue van daardie samelewing verstaan – Angela Davis
Die toets van ‘n beskawing is die waarde wat aan vroue geheg word – George William Curtis
Gelukkig is ons 70 jaar later en hopelik gaan dit nie nog 70 jaar neem voor vroue en mans, oor alle grense heen menswaardig behandel word nie.
Moenies vir dames (70 jaar gelede)
Moenie ..
• Op straat rook nie.
• Gedurig sonder end praat nie.
• Voor ‘n man uitloop in ‘n kafee, bioskoop of teater nie.
• Vergeet om altyd aan u man se regterkant te loop nie.
• U man se korrespondensie oopmaak nie.
• U man se papiere op sy skryftafel rondskuif nie.
• Ontevrede wees en daaroor lol as u man meen ‘n artikel is te duur nie. • U man en sy foute met u familie en vriende bespreek nie.
• U man laat wag vir ete as hy by die huis kom en dit etenstyd is nie.
• Oor u kinders spog nie.
• U kinders vir ander mense laat resiteer of liedjies sing nie.
• Met u bediende voor u man of ander mense raas nie.
• Dink dit is verkeerd om met handskoene aan te groet nie, dit is heeltemal reg.
• Wanneer u op ‘n nuwe plek aankom, die mense gaan besoek voordat hulle u besoek het nie.
• Langer as drie weke wag om na mense toe te gaan nadat hulle u besoek het nie.
• As u ‘n weduwee is u eie naam, bv mev Hester Brand, op u besoekerskaartjies laat druk nie – u gaan steeds onder u man se naam, bv mev Jan Brand. Landbouweekblad, 8 Maart 1944
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.