Die mooie Natasha, Vrouekeur se mode-en-skoonheids-redakteur, en haar man, Jonathan van der Walt, is op 22 September getroud
Vele bekendes, beroemdes en berugtes het al kwansuis allerlei wyshede kwytgeraak. Delf jy dieper, kom jy agter hulle het dit nooit gesê nie. Nietemin, wie wat ook al gesê het, daar is aanhalings wat presies vasvat wat ek dink, maar nie so goed kan stel nie. Klaarblyklik het Friedrich Nietzsche oor die huwelik gesê: “Dit is nie ’n gebrek aan liefde nie, maar ’n gebrek aan vriendskap wat ’n huwelik ongelukkig maak.” Trou is nie perdekoop nie, is die gesegde wat ons almal ken, maar sprokiesverhale en romantiese flieks reg uit Hollywood het meestal ’n deurlopende storielyn wat só lyk:
Begin: Man en vrou ontmoet mekaar. Middel: Hulle sukkel om bymekaar uit te kom. Einde: Hulle kom bymekaar uit, trou en fluit-fluit, die storie is uit. Dit klink vir my makliker as perdekoop. Dié soort stories vertel nie die hele storie nie. Dit wys ons nie wat ná die bruilof gebeur nie. Om te trou is maklik. Om getroud te bly, is moeiliker. Oor trou as ’n instelling het ek meer vrae as antwoorde, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag, dus hou ek by wat Nietzsche oor vriendskap in ’n verhouding gesê het.
Vir twee mense met verskillende persoonlikhede, geite, menings, agtergronde, geskiedenis, ervarings en belangstellings om vir altyd gelukkig saam te leef, verg inderdaad veel meer as perdekoop. ’n Vriendin skryf op Facebook met hul 20ste huweliksherdenking onder meer: “… as ek terugkyk na my lewe is daardie dag die sinvolste ding wat ek in my hele lewe gedoen het. Intussen het ’n leeftyd verloop. Ons het al saam gelag, gehuil, soms hard baklei en geskree, soms sag gepraat en soms glad nie gepraat nie. Ek kon nie vir ’n beter spanmaat as jy gevra het nie.”
Dis Elie Wiesel wat gesê het: “Friendship marks a life even more deeply than love. Love risks degenerating into obsession, friendship is never anything but sharing”. Vir my is ’n gelukkige verhouding die bymekaarkom van ’n komp goed, maar die sleutel lê vir my daarin dat ek nie by iemand bly omdat ek moet nie, maar omdat ek wil. My wens vir my kinders en hul lewensmaats en vir Natasha en Jonathan is dat hulle altyd die wil sal hê om mekaar se vriende te wees. Deur dik en dun.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.