Verlede jaar hierdie tyd was ek oor ’n paar inskrywings in my dagboek opgewonde
Eerstens was dit bykans Desembervakansie en het ons die laaste uitgawes drukkers toe gestuur. In die tweede plek was ’n skryfkursus op ’n Griekse eiland in groot letters in April 2017 in my dagboek vir die nuwe jaar geskryf, en in September my dogter en haar geliefde se troue. Als het so ver in die toekoms gevoel. En hier is ek nou ’n jaar later en ek is weer opgewonde oor dit bykans Desembervakansie is en ons is druk besig om die laaste uitgawes drukkers toe te stuur.
April in Griekeland het gekom en gegaan en ek en my geliefde het wonderlike herinneringe en nuwe planne om terug te gaan. Die troue op 23 September wat so ver in die verskiet gevoel het, het ook gekom en gegaan en ons het heerlik in Maboneng bruilof gehou. Maar toe is daar nog ’n troue in die dagboek (waarvan nie ek of hierdie bruidspaar in Desember verlede jaar geweet het nie): Op 18 November is my seun en sy geliefde ook getroud en het spesiaal Suid-Afrika toe gekom om die dag met naby geliefdes te deel.
So gaan dit elke jaar. Voor jy jou oë uitvee, is die jaar verby en beplan jy weer vir die volgende jaar. Maar dit wat jy nie beplan nie, word ook deel van jou dagboek. Ek het gewis nie beplan dat my geliefde helder oordag in ’n geweerloop sou vaskyk en beroof word op pad Unisa toe om te gaan werk nadat hy van die Gautrein af geklim het nie. Dit was ’n nare ondervinding, maar ’n jaar lewer nie net goeie herinneringe op nie. Ek weet nie hoe lyk volgende jaar se dagboek nie – die beplanning is om vroeg in Januarie weer terug op kantoor te wees om saam met ’n besonderse span mense in die VK-kantoor te werk.
En in Maart gaan ek hopelik Indië toe as deel van Vrouekeur en Seagull se toergroep, maar verder is my dagboek nog leeg. Al wat ’n mens kan hoop, is dat die goeie dinge wat vir ’n mens voorlê, baie meer as die slegte dinge gaan wees. Dit help nie om te bekommer oor dit wat kan verkeerd loop nie. Iewers het ek eendag gelees (hoe waar dit is, weet nugter, maar dit laat my beter voel) dat 95% van goed waaroor ’n mens jou bekommer nie gebeur nie. So jy bekommer 100% van die tyd oor 5% goed wat kan gebeur. Mag ons dagboeke vir die res van die jaar en in 2018 vol goeie en min slegte herinneringe wees en mag ons en ons geliefdes gesond en gespaar bly.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.