Verlede week het ons vir Marlo Kitshoff-Carstens ná 16 jaar gegroet. Hierdie week stel ek graag ons nuwe kokke bekend.
Ons twee nuwe kosskrywers is Suzanne Crozier en Mareli Visser. Suzanne het reeds lank saam met Marlo gekook en Mareli is as ‘n koekekok van formaat bekend. Albei deel ‘n passie vir kos en ons is baie opgewonde oor hul planne vir Vrouekeur se kosblaaie.
Suzanne Crozier het van kleins af tyd in die kombuis deurgebring. Haar vroegste herinnering is ‘n pot kerrie-afval wat haar ouma graag gekook het. Sy het op Tukkies gasvryheidsbestuur geswot en in haar derde jaar as kosassistent vir Vrouekeur begin werk. Sy was intussen Korea toe waar sy twee jaar lank Engels gee het. Sy het die wêreld platgetoer en gebruik haar reisherinneringe as kosinspirasie. Buiten om vir Vrouekeur te skryf, gee sy klas by ‘n sjefskool en kan Woensdagoggende op Die Groot Ontbyt-program op kykNET gesien word.
Mareli Visser was die eerste wenner van kykNET se gewilde realiteitsprogram Koekedoor. Sy besit ‘n trouvenue op Douglas, doen kosdemonstrasies regoor die land en werk ook aan ‘n kookboek. Kosmaak en onthaal is haar eerste liefde en haar bakfilosofie is dat dit pret moet wees. Mareli sê ‘n “geflopte” koek is net so lekker soos die een wat perfek lyk. “Ek wil die land met maklike resepte lus maak om te bak!” #bakliefde Mareli
Ons nuwe kosblaaie gaan steeds maklike en vinnige resepte insluit, maar ons beplan ook om weekliks iets nuuts vir ons lesers te gee. Baie mans is lus om hul hand in die kombuis te waag, maar voel oorweldig deur die jargon en instruksies wat vir dié van ons wat kan kook, tweede natuur is. Suzanne gaan pa’s leer kook. Maar dié nuwe kosblaaie is uiteraard nie net vir pa’s nie. Dis vir alle mans en vroue wat lus het om die voorskoot aan te sit en agter die kospotte in te klim. Nog iets nuuts op ons kosblaaie is spesiaal gemik op mense wat nou net huis opsit of diegene wie se kinders nou hul eie potjie krap. Hier gaan ons, soos vir pa’s, stap vir stap wys hoe om ‘n dis of drie vir een tot twee mense op die tafel te sit.
Iets waaroor ons ook opgewonde is, is ons bakkompetisie wat Augustus aanlyn afskop. Ons wil hê ons lesers wat lief is vir bak, moet hul slag vir ons wys en daar’s ‘n heerlike meevaller in prysgeld ter sprake. Hou jou Vrouekeur, ons webwerf (www. vrouekeur.co.za) en ons Facebook-blad dop vir meer inligting hieroor. Ons gaan die kompetisie eersdaags aankondig. Van aanlyn gepraat, onthou, ons plaas ook elke week resepte op ons webwerf en dié resepte is nou nie net in Afrikaans te kry nie, maar ook in Engels. Dieselfde geld vir sekere brei- en hekelpatrone wat ons stelselmatig in Engels (en natuurlik Afrikaans) op ons webwerf laai. Heelwat mense het met Engelse patroonaanwysings leer brei en hekel en ons deel ons resepte en patrone ook graag met mense wat nie noodwendig Afrikaans is nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.