Ek dink nie kinders besef hoe vreesaanjaend dit is om (veral die eerste keer) ’n ma (of ’n pa) te wees nie
Charlize Berg en haar mooie meisiekind, Aleiah-Rose, pryk op ons voorblad. ’n Splinternuwe mensie en ’n splinternuwe mamma spesiaal vir moeders se dag vanjaar.Ek dink nie kinders besef hoe vreesaanjaend dit is om (veral die eerste keer) ’n ma (of ’n pa) te wees nie. Hier sit jy met ’n kleine babatjie in jou arms en eintlik het jy geen idee wat jy moet doen nie.
So vertel ’n vriend van my ’n staaltjie oor ’n vriendin wat onlangs ma geword het. Ontsteld en oorweldig bel sy haar ma in die Kaap toe die kleinding twee weke oud is: “Ma, ek weet nie of ek dit kan doen nie. Ek kan glad nie met haar bind nie. Hoe bind ’n mens met jou kind?” Die ma is lankal ’n ma. Sy weet meer. Sy is ook ’n praktiese mens sonder geite en giere. Haar antwoord is eenvoudig: “Luister, vergeet nou van bind met jou kind en al daai goeters. Jou fokus op die oomblik is om haar aan die lewe te hou.”
Ek het hardop vir die snaaksheid van hierdie wyse raad gelag. Die nuwe ma (so verneem ek van my vriend) was onmiddellik gerus. Ons kyk te veel kere vas in die “foute” wat ons maak, gemaak het en dalk gaan maak in die grootmaak van ons kinders. Ek verwys nie na mense wat nooit moes voortplant nie – diegene wat hul kinders mishandel, molesteer en verwaarloos – ek verwys na ma’s soos ek en jy. Wat agtergekom het mawees is van die begin tot die einde a work in progress en wragtag nie aldag maklik nie.
Ek lees onlangs die volgende op Facebook raak: One of the most powerful truths we can offer our children is the knowledge that we are all still learning. None of us has arrived; we all have room to grow. This frees our kids of expecting perfection of themselves – or anyone else – because they know life is a journey, from day one. (Erica Layne)
Te dikwels stel ons te hoë eise aan ons kinders (en hulle aan ons) en onsself en ons vergeet om net lief te hê en te leef. Ons vergeet om te fokus op dit wat nou belangrik is – al is dit nou net om jou kind vir die volgende twee weke aan die lewe te hou. Ek dink kinders vind dit moeilik om te verstaan dat hul ouers net mense is wat ook soms sukkel, faal, verkeerde goed sê en doen, moeg raak, bang of onseker is.
Sien – ons ken hulle van dag een af, maar hulle weet van ons dag een tot hul dag een niks nie. Dit wat ons tot op daardie stadium gevorm het, is nie ’n proses wat hulle kon volg nie. Vir hulle was ons oombliklik grootmense en ons moet als weet en als “reg” doen. En ons kan nie. Dít het ek as kind ook nie verstaan nie. Ek verstaan dit vandag. Vir alle nuwe ma’s en ou ma’s wil ek sê – ons is eintlik fantasties dat ons ons kinders kon grootmaak van dag een af met min of geen ervaring nie. Ons verdien ’n spesiale dag net vir ons (hoor jy, Ma?).
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.