Ek ry elke oggend dieselfde pad werk toe. Op pad ry ek verby ‘n kleuterskool en dis opvallend dat die meeste kinders deur hul pa’s afgelaai word.
Dit is deesdae glad nie ‘n vreemde verskynsel nie. Die dae waar al die verantwoordelikheid van kindersgrootmaak Ma s’n was, is gelukkig iets van die verlede. Dit is nie meer die norm dat Pa die voorsiener en Ma die versorger is nie. Verhoudings het nie meer ‘n tradisionele (en argaïese) rolverdeling nie. Pa maak ook kos, help kinders met huiswerk, weet hoe die wasmasjien werk en ek ken heelwat mans wat van dekor meer as hul vroue weet. Daar is ook ál meer mans wie se vroue groter salarisse kry en waar die rolverdeling omgeruil het en Pa die hoofversorger is. Manlikheid word nie meer gemeet aan hoe sterk en “butch” jy is nie. En vroulikheid nie meer aan hoe fyntjies en onderdanig jy is nie.
Die tradisionele siening van ‘n gesin is ook nie meer Pa wat die hoof van die huis, Ma wat sorg dat alles spiekeries lyk en dat daar saans vleis, ‘n stysel en twee groentes op die tafel is nie. Daar is gesinne waar twee pa’s of twee ma’s die ouers is, en dikwels is Pa en Ma nie meer bymekaar nie. Daar is nie meer ‘n perfekte of ideale gesinsopset nie. Die belangrikste in enige situasie waar kinders betrokke is, is dat daar liefde, omgee, ondersteuning, begrip, vreugde, pret en geborgenheid is. Met Vadersdag om die draai, wil ek hierdie week al die wonderlike pa’s bedank.
Wat is ‘n goeie pa? Ek het die voorreg om steeds die foon te kan optel en my pa se stem te hoor. Op 81 is hy steeds vir my ‘n voorbeeld in alle opsigte. Ek het in die bykans 60 jaar wat hy met my ma getroud is hom nog nooit sy stem teenoor my ma hoor verhef nie en nog nooit ‘n skewe woord oor of vir haar uit sy mond gehoor nie. Ek het hom nooit op enigeen van ons kinders hoor skree nie. Ek het hom nog nooit sy humeur sien verloor en onnadenkend optree nie. Ek het hom nog nooit te veel sien drink nie. Ek het hom nog nooit ‘n mens in nood die deur sien wys nie – inteendeel. Ek het hom nog nooit ongeskik gesien nie. Ek het hom nog nooit sien lyf wegsteek nie; inteendeel, om die ekstra myl te stap in sy werk, vir sy kinders, vir my ma, vir sy medemens is wie hy is. Op hierdie ouderdom werk hy steeds (soos menige 40-jarige nie kan nie), maar hy was nog nooit te besig om my oproep te beantwoord as ek hom bel en raad vra nie. Hy het my nog nooit vir enige van my onbesonne besluite veroordeel nie. Hy het nog nooit in my getwyfel nie. Niks is ooit vir hom ‘n probleem nie – by hom het ek geleer dat ‘n probleem net ‘n probleem is as daar nie ‘n oplossing voor is nie. By hom het ek geleer om empatie vir my medemens te hê, om te luister, om my in ‘n ander se posisie in te dink en om nederig te wees.
Lank voor ek my brood en botter met letters op papier verdien het, het hy my al aangespoor om te skryf. My pa het my geleer om nooit moed op te gee nie. Om nooit hoop te verloor nie. Om in myself te glo. Om nie net te droom nie, maar te doen. Maar om in als wat ek doen, te dink hoe dit ‘n samelewing ten goede kan beïnvloed. Sy entoesiasme vir die lewe het my aangesteek en ek hoop dat ek op 81, soos hy, steeds lief kan wees vir die lewe en met dankbaarheid en nederigheid my seëninge kan tel. Want niks in die lewe is vanselfsprekend nie. Ook nie goeie pa’s nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.