Hoe vergewe jy? bly ’n aktuele vraag. Dis ’n tawwe vraag – veral vir mense wie se geliefdes deur ander mense se toedoen dood is
Op Netflix is daar ’n reeks waarin die aanbieder met familielede gesels wat ’n broer, suster, ma, pa of kind moes begrawe omdat hulle wreed vermoor is. In dieselfde program praat die aanbieder ook met die persoon wat die misdaad gepleeg het en nou op die doodstraf wag, maar die familielede van dié mense kry ook ’n spreekbeurt.
Doodstraf is ’n onderwerp op sigself en een wat ek in beginsel nie ondersteun nie, maar dis ’n ander vraag wat my mening sou wees as een van my mense vermoor is. Doodstraf is niks vreemds in sekere state in Amerika nie, maar sonder om deeglik op dié tema in te gaan, vind ek dit onmenslik om iemand ter dood te veroordeel en dan boonop 30 jaar lank op death row te hou. Onmenslik, sal mense vra? Wat van die onmenslike dade wat hulle gepleeg het? So is dit, maar Mahatma Gandhi het gesê: “An eye for an eye leaves the whole world blind.”
Terug by die reeks op Netflix. Dis aangrypend om te luister en die emosie te sien wanneer daar met die familielede gesels word. Die reaksie met betrekking tot vergifnis is nie by almal dieselfde nie. Sommige kry dit reg om te vergewe – ander wens die misdadigers gaan letterlik hel toe. Is daar ’n reg en ’n verkeerd in hul reaksie? Ek dink nie so nie – ek is nie in hul skoene nie, so hoe kan ek weet? Maar die mense wat sit en wag om vir hul dade doodgemaak te word, het ook mense wat vir hulle lief is en die gesprekke met hulle is ewe aangrypend.
Die liefde wat ouers vir ’n kind het, is onvoorwaardelik. Onvoorwaardelik is ’n groot woord. Hoe maak jy as jy weet jou kind het iemand vermoor en sit lewenslank in die tronk of is ter dood veroordeel? Die meeste haal tydens die onderhoude kleintydfoto’s van hul kind uit en daardie onskuldige kindertjies wat jy sien lag en speel op die vergeelde foto’s breek jou hart. Toegegee, die meerderheid van die veroordeeldes kom uit haglike omstandighede en sonder om hulle te verontskuldig, kan mens jou indink dat daar ’n menigte faktore is wat hulle daartoe gedryf het om agter tralies te beland. Ek weet nie almal wat uit haglike omstandighede kom, vermoor mense nie, maar dit breek nietemin my hart.
Wat ook al tot sulke tragedies aanleiding gegee het, die mense wat agterbly se lewens sal nooit weer dieselfde wees nie. Hoe vergewe mens? Nie alle mense hoef dié vraag waar moord ter sprake is, te beantwoord nie. Gelukkig nie. Tog voel ons almal in die een of ander stadium in ons lewe te nagekom, seergemaak, beledig, bedrieg of teleurgestel deur die optrede van ander mense. Soms willens en wetens. Dis nie lekker om aan die ontvangkant van sulke behandeling te wees nie. Moet mens vergewe? Dalk moet mens jouself vra: “Was ek al ooit die een wat ’n ander mens só behandel het?” Dít maak die antwoord dalk makliker. En die vergifnis. Of minstens die reaksie. Weer eens, ek kan nie namens ander mense praat nie en mense reageer verskillend. Afhangende van onder meer jou persoonlikheidstipe gaan jy op ’n sekere manier reageer.
Ek het agtergekom dat ek in ekstreme situasies mense uit my lewe kan sny. Sonder ’n geveg of drama, maar ek het gewoon te min dae in my lewe oor om tyd te bestee met mense (professioneel of persoonlik) wat die lewe nog moeiliker maak as wat dit is. Ek wens hulle nie sleg toe nie, maar ek het al lank genoeg geleef om te weet wat en wie vir my goed is. En ek is nugter genoeg om te besef dat daar dalk mense is wat presies so oor my voel en dis oukei. Of dit as vergifnis gesien kan word, sal mense verskil. Wat ek wel weet, is dat dit nie help om bande te sny en te bly wroeg oor wat gebeur het nie. Dis soos om gif te drink en te hoop die ander persoon sterf. Daai vergifnis spel mense verGIFnis.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.