Elke jaar sê ek dit. As Augustus aanbreek, is die jaar verby. En ons is reeds halfpad in dié einste maand. Hierdie uitgawe is al nommer 33 vir die jaar.
Dis seker omdat ek skool verpes het (al 12 jaar daarvan) dat dit vir my gevoel het asof ’n jaar oneindig lank was, maar dalk was dit net omdat ek ’n kind was en sterflikheid nie deel van my verwysingsraamwerk was nie. As kind en tiener dink jy mos nie sommer aan oud word nie en die dood lê baie ver in die toekoms. Op ’n dag vee jy jou oë uit en daai toekoms is die hede. Dan wil jy hê die jaar moet briek aandraai, want jy weet nou die lewe is kort en elke oomblik is kosbaar. Saam met die grootmenslewe waarin jy jou nou bevind, is daar allerlei faktore wat jou laat stres, en stres maak ’n mens moeg, selfs siek.
Elke jaar neem ek myself voor om minder te stres en elke jaar is ek teen Augustus uitgeput. Hierdie jaar is ek nou nie propvol energie dié tyd van die jaar nie, maar die gewone jaarlikse moegheid is nie só erg nie. Ek en my geliefde was in April vanjaar in Griekeland – vir ’n salige drie weke. Ons het een week daarvan ’n skryfkursus van The Talking Table in Molyvos op Lesbos bygewoon (bl 38). Dié ervaring het my baie geleer en ek het tyd gehad om ’n bestekopname van my lewe te maak. Dit het my laat nadink oor dit wat jou jaag of wat jy najaag. Voeg dit waarde tot jou lewe toe of is jy vasgevang in die wêreld waarin “sukses” en geld bedmaats is?
As ’n mens dit ernstig neem dat die lewe kort is, is jy mos dom om te jaag, want voor jy weet, is dit verby. Dit sou tog slimmer wees om die lewe as sulks eerder as sogenaamde sukses na te jaag. Praat jy op ’n Maandagoggend met mense in die hysbak by die werk, is die algemene gevoel die naweek was te kort. Donderdae in die hysbak is die gesprek een van opgewondenheid oor dit môre Vrydag is. Só wens ons eiehandig ons lewens om. Van Vrydag tot Vrydag.
Onlangs lees ek dat die Dene die geheim ontdek het om hul stresvlakke te verlaag en doelbewus te leef. Die gemiddelde werksweek in Denemarke is 37 uur, maar meer as 90% van hulle werk net 32 uur per week – as hul werk klaar is, gaan hulle huis toe. Mense wat oortyd werk, word nie bewonder of bevorder omdat hulle so hardwerkend is nie. Trouens, oor hul oënskynlike onvermoë om hul werk binne die 37 uur afgehandel te kry, word gefrons. Dis ’n effense ander uitkyk as ter plaatse en ek het ’n vermoede dit is omdat ons ’n samelewing is wat die Amerikaanse model najaag.
Dáár gaan dit nog erger en verlof is ’n luukse wat jy nie sommer neem nie, want as jy “bo” wil uitkom, moet jou werk jou lewe wees. Dis duidelik die Dene leef nie om te werk nie. Hulle werk om te leef. Pleks dat ons hul voorbeeld volg. Hoe kom ’n mens uit hierdie spiraal? Dis ’n vraag waarop ek sedert my selfondersoek in Griekeland steeds nie ’n antwoord het nie. Dit bly ’n dilemma, want die insig om te besef dat mense se welstand baie belangik is, is nie hoog op ons samelewing se prioriteitslys nie. Dalk gaan ek die antwoord op Lesbos kry.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.