So ’n paar Maandae gelede ry ek oudergewoonte werk toe. By die motorhawe in Melville draai ek af om vinnig iets te ete te kry vir later.
Ek sien hom met die uitklim. ’n Man van sowat 35 sit op die randsteen, skuins oorkant die sypaadjie waar daar sewe tieners onder karton en gehawende komberse lê en slaap. Dis vrekkoud. Net vanoggend nog het ek gekla oor die winterkoue. Dit ná ’n goeie nagrus, ’n warm stort en stomende oggendkoffie. My oog vang dié van die man wat sit. Hy beduie skaam, verleë vir kos. Ek knik my kop en wys dat hy moet wag. Ek koop vir hom twee pasteie en ’n halwe liter volroommelk. Buite gee ek dit aan hom saam met ’n R50-noot. Ek sien die stuk deurskynende plastiek om sy kop gedraai – ’n arm man se mus teen die winter se byt. Sy helder, intelligente oë is sag toe hy opkyk en in perfekte Engels sê: “Thank you so much. Thank you so very much.” Hy gee terselfdertyd iets soos ’n curtsy.
Ek sluk hard om my trane te keer. In die kar keer ek nie die trane nie en ek dink daaraan dat hy my nie met ’n “God bless you” bedank het nie. Dalk het hy ook al oor goddelike ingryping moed opgegee. Ek draai in die pad langs die slapendes verby. Op die randsteen sien ek hoe die man met die plastiekmus ’n warm pastei eet – toegevou in albei hande. Ek dink aan jare gelede. Toe ek nie kon verstaan dat ’n mens ou skoene aan arm mense gee sonder dat hulle dit eers aanpas nie. In my wêreld het ’n winkelassistent jou voet op ’n metaalmaatstaf geplaas om presies te bepaal watter skoengrootte jy moet dra. Dis belangrik om die regte grootte skoen te dra, anders groei jou voete en jou tone nie reg nie, het my ma my geleer. Nou hoe werk dit om iemand se ou skoene sommer net so te dra, wou ek van my pa weet. Ek onthou hy het gedink voor hy my antwoord: “’n Arm mens het nie size nie, my lief.” Daar was iets hartseers in sy stem.
Vandag, dekades later weet ek, ’n arm mens het nie size nie. Dit gaan lankal nie meer oor voete wat skeef kan groei, die reuk van splinternuwe skoene uit ’n boks en ’n bed om in te slaap nie. Daardie hoop het lankal beskaam. Dit gaan oor oorlewing vir vandag. Môre bestaan nie. Die grootste rede vir my om die land te verlaat, sou wees omdat ek die armoede nie meer kan hanteer. Dit breek gewoon my hart om mense te sien bedel. Hulle het niks – selfs nie menswaardigheid nie. En ja, ek weet daar is mense wat nie wil werk nie, maar ek gaan my nie laat oortuig dat dit die meerderheid is nie. Ek weet van gegradueerdes wat sukkel om werk te kry. Nou hoe gemaak om werk te kry as jy geen opleiding, heenkome of hoop het nie?
Ons moet die armoede in hierdie land ernstig neem. Dit is die kern van baie probleme. Veral in ’n land waar mense op straat moet probeer oorleef en ander in motors, wat meer as die gemiddelde huis kos, verbyry. En die argument dat daar oral en altyd arm mense sal wees? Dit is juis my punt – hoekom moet daar arm mense wees? Het ons so afgestomp geraak dat ons dit as gewoon deel van die daaglikse lewe beskou? Voor ’n mens arm mense veroordeel oor die feit dat hulle nie werk nie, moet ’n mens dalk eers ’n myl in hul skoene sonder size loop.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.